Die wysheid wat nie afgelaai kan word nie
Die spoed en omvang waarteen inligting en ontledings in ons moderne tyd aangebied word, is verstommend. Ons hoef nie meer ure in biblioteke te sit om navorsing te doen nie. Die internet en kunsmatige intelligensie kan ingewikkelde onderwerpe verduidelik, uiteenlopende menings saamvat en ontledings aanbied.
Hierteenoor leef ons in een van die mees problematiese tydperke van die wêreldgeskiedenis – geo-politieke verhoudinge is kompleks en gespanne en Westerse lande ervaar uiteenlopende intense uitdagings. Help al die inligting en ontledings ons noodwendig om beter besluite te neem? Ek dink nie so nie. Daar is een vermoë wat die internet nie kan bied nie - dit is menslike wysheid.
Die Griekse filosoof, Socrates, sê hoe slimmer ons word hoe meer besef ons hoe min ons eintlik werklik weet: “Ek weet dat ek nie weet nie”. Miskien is dit die eerste teken van wysheid om nie deurgans antwoorde te hê nie, maar om eerder beter vrae te vra. Wysheid is nie om alles te weet nie, maar om te weet wat werklik saak maak.
Dan kom ons weer terug by die kernvraag wat ons deesdae moet vra: “Maak die beskikbaarheid van kennis ons noodwendig wyser.” Nie noodwendig nie. Kennis gee vir ons feite en ontledings; wysheid vra egter meer. Dit vra besinning, oordeel, perspektief, selfkennis uit ervaring, en die vermoë om te onderskei tussen wat ons kan doen en wat ons behoort te doen. ‘n Mens kan boeke oor verlies lees, maar die dood van ‘n geliefde leer jou iets wat geen ontleding volledig kan oordra nie.
Daar is ook ‘n oënskynlike verband tussen ouderdom en wysheid Ouderdom waarborg nie noodwendig wysheid nie. Sommige mense word oud sonder om besinnende vrae te vra en sonder om ooit uit hul foute te leer. Ervaring, daarteenoor, wat gekoppel is aan nadenke en selfondersoek, bring ‘n soort insig wat nie bloot uit die versameling van feite ontstaan nie. In die Bybelse boek, Spreuke, word wysheid in ‘n groter morele raamwerk geplaas. Kennis behoort met nederigheid, insig en verantwoordelike vermeng te word.
Miskien is dit die paradoks van ons tyd: ons beskik oor al hoe meer antwoorde, maar die belangrikste vrae bly op ‘n menslike vlak. Wat is reg? Wat is genoeg? Wanneer moet ek swyg? Hierdie vrae vra meer as inligting. Hulle vra lewenservaring en insig.
Die uitdaging van ons tyd is dus nie om meer kennis te versamel nie, maar om te leer hoe om dit wys te gebruik. Want kennis kan ons help om die wêreld te verander. Wysheid help jou om te besluit watter verandering die moeite werd is.
Die kern van ons samelewinguitdagings in die tydperk waarin ons lewe is in werklikheid ‘n spanning tussen ons tegnologiese vermoëns en ons menslike vermoë om sinvol te oordeel. Ons het vandag dalk beter instrumente as ooit tevore, maar dit beteken nie dat ons noodwendig beter besluite neem, meer begrip vir mekaar het of gelukkiger saamleef nie.
Hoe meer ek van die lewe leer, hoe minder klink absolute sekerheid na wysheid.
Geskryf deur Koos van die Waterberge
vir Bovest




