Aftrede is ’n Lewensreis

Riaan Botha • May 2, 2025

Afgetredenes se behoeftes verskil na aanleiding van hul ouderdom. Die behoeftes van ‘n 66-jarige verskil met dié van ‘n 86-jarige. Dr Elisabeth Kübler-Ross, ’n Amerikaans-Switserse sielkundige het die vyf fases van die lewensreis van aftrede so opgesom:


  • Die fase van verbeelding. Hierdie periode dek 15 jaar of meer voor aftrede waartydens mense begin verbeel of visualiseer hoe hul aftrede eendag gaan lyk en hoe hulle dit gaan geniet. Dit is wanneer daar aktief beplan word oor watter finansies nodig gaan wees om hul beplande aftrede te kan geniet.


  • Die fase van afwagting. Hierdie periode begin ongeveer vyf jaar voor aftrede. Opgewondenheid neem toe met die naderende datum van aftrede en meer spesifieke planne word beraam oor hoe om dit te geniet. Reise word geïdentifiseer en ’n moontlike aftree-adres word bespreek. Afsprake word gemaak met ’n finansiële adviseur om te bepaal of daar genoegsame aftree-geld beskikbaar gaan wees vir die beplande aftrede.


  • Bevryding. Die beplande dag van aftrede het aangebreek en daar bestaan gemengde gevoelens oor die vryheid van aftrede, die verlies aan sekuriteit van ’n vaste werk met ’n inkomste en jou afhanklikheid van jou aftree-inkomste. Daar word gereken dat die opgewondenheid van die nuwe vryheid wat met aftrede gepaard gaan so ongeveer twee jaar duur.


  • Die fase van reoriëntasie. Gedurende hierdie periode word die nuwe lewensomstandighede en nuwe geleenthede tydens aftede geniet. Hierdie nuwe uitdagings bring nuwe geluk. Alhoewel gesondheids- en finansiële kwessies opduik, geniet die meeste afgetredenes hierdie periode, wat ongeveer 15 jaar duur.



  • Die fase van aanpassing: Gedurende die daaropvolgende aantal jare word daar aangepas en aanvaar dat die toename in siektes en die beperking van beweging deel is van die ouderdomsbeperkings. Die afsterwe van geliefdes neem toe en die gevolglike hartseer en verlange word deel van jou bestaan. Die nalatenskap van mense se welvaart geniet meer aandag.

 

Aftrede is nie ’n solo-reis sonder die familie nie

 

Die ouer-wordende afgetredenes veroorsaak dat selfs vier geslagte families met ouers, kinders, kleinkinders en agter-kleinkinders meer algemeen voorkom. Multi-geslag-families in dieselfde stad of dorp of selfs huishouding verseker dat ouer-wordende gesinslede nie geïsoleer word of vereensaam nie. Dit verhoed dat aftrede ’n solo-reis sonder sosiale ondersteuning is.

 

Die realiteit dat groot getalle jongmense Suid Afrika verlaat om in ’n gevestigde ekonomie internasionaal te werk, het tot gevolg dat talle plaaslike afgetrede ouers se kinders in ander lande woon. Die gevorderde digitale era waarin ons leef, maak dit gelukkig maklik om kontak te hou met oorsese familie, maar dit vervang nie persoonlike familie-sorg nie.

 

 

By Dr. Riaan Botha March 4, 2026
Beleggers is onseker oor wat die invloed van die oorlog in die Midde-Ooste op hul beleggingsportefeuljes gaan wees. Gaan die vernietiging van infra-struktuur, die wisseling in die prys van olie en die sterkte van die Suid-Afrikaanse geld eenheid teenoor die Amerikaanse dollar die prestasie van hul beleggingsportefeuljes nadelig raak? Niemand weet ook nie hoe lank die oorlog gaan duur en of vyandighede gaan uitbrei na ander lande nie. Dit is egter belangrik om die volgende rakende Bovest se beleggingsportefeuljes te onthou: Diversifikasie . Portefeuljes is saamgestel uit die verskillende bateklasse naamlik aandele, efekte, kontant en gelyste eiendom. Indien die olie pryse styg weens ’n tydelike tekort aan olie gaan sekere aandele se pryse daal. Die ander bate-klasse sal egter nie so negatief geraak word nie. Verskillende beleggingsfondse . Die Fonds van Fondse (FoF) metodiek word gebruik om beleggingsportefeuljes saam te stel. Dit verseker dat beleggingsportefeuljes vinnig herstel na onvoorsiene gebeure soos oorloë of natuurrampe. Die verskil in die beleggingstyle van die verskillende fondsbestuurders verseker ook bo-gemiddelde beleggingsprestasie. Aktiewe bestuur. Die beleggingskomitee bestuur die beleggingsportefeuljes aktief deur die verskillende ekonomiese siklusse. Beleggers het anders as spekulante ’n lang termyn benadering oor beleggingsprestasie. Die onlangse geskiedenis met die Covid-pandemie asook die finansiële krisus van 2008 het bewys dat geduld bo-gemiddelde beleggings prestasie verseker. Alhoewel die huidige oorlog in die Midde-Ooste finansiële markte nadelig raak, weet ons dat ons as beleggers geduldig moet wees om hierdie onseker tye te deurstaan en nie emosionele veranderings aan portefeuljes maak nie. Indien lesers enige navrae oor hul portefeuljes het, kan hulle hul Bovest adviseur skakel.
March 3, 2026
Dit is tyd om ankers op die plaas op te trek. Van Wyk Louw het gesê as die getye verander moet jy die bakens verskuif. Ons moet los items verkoop, moet minder maak, die volgende lewe vereis ‘n eenvoudiger bestaan met minder lewensgoedere binne kleiner spasies. Ons durf die proses moedig aan en dit neem tyd. Daar is ‘n menigde afvalmetaal items op die plaas en dit moet verwyder word – ironies, ook dit moet ‘n nuwe lewensfase in ‘n nuwe omgewing binnegaan. Ons laai die eerste vrag van vele. Daar is metaalpype, heiningmateriaal, stukke van ou landbouimplemente, en haas enige iets wat een of ander metaal bevat. My eindbestemming is Modimolle se skrootwerf. By die ingang is daar ‘n ketting wat toegang reguleer. Ek word beveel om bo-op ‘n metaalstrook te ry, net om later agter te kom dat dit eintlik ‘n weegbrug behels – ‘n noodsaaklike kritiese item in die proses van metaalverhandeling. Ek moet uitklim want saam word ek nie geweeg nie. Ek dink…in my huidige kondisie sou ek nogal ‘n goeie opbrengs in skrootmetaalpryse kon behaal. ‘n Werker in ‘n kantoortjie teken die gekombineerde gewig van die voertuig en vrag aan. Van hier word die vrag stuk-stuk volgens die soort metaal afgelaai. ‘n Man wys my die pad aan tussen hope metaalitems. ‘n Besige landskap van bedrywighede ontvou voor my – vurkhysers, trekkers, blouvlamme wat metaal opsny, waentjies wat afval na hulle bestemmings op die perseel vervoer en arbeiders wat lorries en sleepwaens aflaai. Eenkant lê ‘n wrak van ‘n motor, ‘n laaste staanplek voordat dit in stukke opgesny en inmekaar gepers sal word. Terwyl ek staar kan ek nie help om ‘n vermenslikte beeld in die motor te sien nie. Dit lyk vir my soos iemand wie se wiele afgekom het, voor is dit in die bek geskop en van agter het dit ‘n gatskop gekry. Dit het ook nie meer visie nie, want die voorruit is aan vlarde. Wat ‘n droewige gesig. Ons begin aflaai. Elke soort metaal kry sy eie tuiste, koper hier, alimunium daar, brons in ‘n drom wat geel gemerk is. Elke keer na ‘n spesifieke metaal afgelaai is, moet die voertuig terug skaal toe om die gewig van ‘n metaal te bepaal. Uit die aard van die saak verskil metale se pryse, Binne my aanvanklike beeld van skrootchaos, ontluik daar ‘n onderliggende nougesette en presiese ordeningsproses. Die aflaai self vorm ‘n ritmiese proses, ‘n stille doelgerigtheid in kontras met die ruwwe aard van die omgewing. ‘n Indruk tref my. Hierdie versameling van skroot, in teenstelling met wat meeste mense as afval sal beskou, word met metodologiese sorg hanteer. Dit is nie net ‘n stortingsarea nie, dit is ‘n sorteringsterrein waar die oorblyfsels van industrieële komponente nuwe waarde vind – elke item word sorgvuldig uitgesoek, geweeg, geprys, en uiteindelik herwin tot nuwe bruikbaarheid. Die laaste item word afgelaai. Ek word verwys na die betaalkantoor en stap die trappe op. ‘n Vriendelike dame groet my. Haar naam is Elsabe. Sy is druk besig om al die berekeninge te doen. Ek vra: “Elsabe, kry ek darem genoeg geld om ‘n draai by die Spur te maak?” “Ja oom, en genoeg vir ‘n voorgereg ook”  Ek ry weg met kontant in die hand en met ‘n dieper begrip van ‘n nuwe wêreld wat ek nie voorheen geken het nie. Dit wat aanvanklik as ‘n eenvoudige taak begin het, het voortgevloei in ‘n begripvolle blik op ‘n nywerheid wat ons moderne bestaan op ‘n positiewe wyse rugsteun. Agter elke hoop rommel is daar in werklikheid ‘n storie.