Die Verandering van Lewensfase van Seniors
Dit is tyd om ankers op die plaas op te trek. Van Wyk Louw het gesê as die getye verander moet jy die bakens verskuif. Ons moet los items verkoop, moet minder maak, die volgende lewe vereis ‘n eenvoudiger bestaan met minder lewensgoedere binne kleiner spasies. Ons durf die proses moedig aan en dit neem tyd.
Daar is ‘n menigde afvalmetaal items op die plaas en dit moet verwyder word – ironies, ook dit moet ‘n nuwe lewensfase in ‘n nuwe omgewing binnegaan. Ons laai die eerste vrag van vele. Daar is metaalpype, heiningmateriaal, stukke van ou landbouimplemente, en haas enige iets wat een of ander metaal bevat. My eindbestemming is Modimolle se skrootwerf.
By die ingang is daar ‘n ketting wat toegang reguleer. Ek word beveel om bo-op ‘n metaalstrook te ry, net om later agter te kom dat dit eintlik ‘n weegbrug behels – ‘n noodsaaklike kritiese item in die proses van metaalverhandeling. Ek moet uitklim want saam word ek nie geweeg nie. Ek dink…in my huidige kondisie sou ek nogal ‘n goeie opbrengs in skrootmetaalpryse kon behaal. ‘n Werker in ‘n kantoortjie teken die gekombineerde gewig van die voertuig en vrag aan. Van hier word die vrag stuk-stuk volgens die soort metaal afgelaai.
‘n Man wys my die pad aan tussen hope metaalitems. ‘n Besige landskap van bedrywighede ontvou voor my – vurkhysers, trekkers, blouvlamme wat metaal opsny, waentjies wat afval na hulle bestemmings op die perseel vervoer en arbeiders wat lorries en sleepwaens aflaai. Eenkant lê ‘n wrak van ‘n motor, ‘n laaste staanplek voordat dit in stukke opgesny en inmekaar gepers sal word. Terwyl ek staar kan ek nie help om ‘n vermenslikte beeld in die motor te sien nie. Dit lyk vir my soos iemand wie se wiele afgekom het, voor is dit in die bek geskop en van agter het dit ‘n gatskop gekry. Dit het ook nie meer visie nie, want die voorruit is aan vlarde. Wat ‘n droewige gesig.
Ons begin aflaai. Elke soort metaal kry sy eie tuiste, koper hier, alimunium daar, brons in ‘n drom wat geel gemerk is. Elke keer na ‘n spesifieke metaal afgelaai is, moet die voertuig terug skaal toe om die gewig van ‘n metaal te bepaal. Uit die aard van die saak verskil metale se pryse, Binne my aanvanklike beeld van skrootchaos, ontluik daar ‘n onderliggende nougesette en presiese ordeningsproses. Die aflaai self vorm ‘n ritmiese proses, ‘n stille doelgerigtheid in kontras met die ruwwe aard van die omgewing.
‘n Indruk tref my. Hierdie versameling van skroot, in teenstelling met wat meeste mense as afval sal beskou, word met metodologiese sorg hanteer. Dit is nie net ‘n stortingsarea nie, dit is ‘n sorteringsterrein waar die oorblyfsels van industrieële komponente nuwe waarde vind – elke item word sorgvuldig uitgesoek, geweeg, geprys, en uiteindelik herwin tot nuwe bruikbaarheid.
Die laaste item word afgelaai. Ek word verwys na die betaalkantoor en stap die trappe op. ‘n Vriendelike dame groet my. Haar naam is Elsabe. Sy is druk besig om al die berekeninge te doen. Ek vra:
“Elsabe, kry ek darem genoeg geld om ‘n draai by die Spur te maak?”
“Ja oom, en genoeg vir ‘n voorgereg ook”
Ek ry weg met kontant in die hand en met ‘n dieper begrip van ‘n nuwe wêreld wat ek nie voorheen geken het nie. Dit wat aanvanklik as ‘n eenvoudige taak begin het, het voortgevloei in ‘n begripvolle blik op ‘n nywerheid wat ons moderne bestaan op ‘n positiewe wyse rugsteun. Agter elke hoop rommel is daar in werklikheid ‘n storie.




