LEEF DOELGERIG AS AFGETREDENE
Die regte gesindheid teenoor aftrede verseker dat ons gelukkig aftree. Die nuwe vryheid wat jy beleef as ’n afgetredene is om jou eie tydskedule te bepaal en om te doen wat jy jou hele werkende lewe na gehunker het. Hierdie fase in jou lewe is kosbaar en moet ten volle benut word.
Bepaal die doel wat jy as ’n afgetredene moet uitleef. Dit is meer as om net jou belangrikse bate – jou tyd – te gee vir die saak waarin jy ’n verskil wil maak. Gedurende jou werkende loopbaan het jy soveel kundigheid opgedoen om suksesvol te kan wees en om jou doel uit te leef. Hierdie kennis sowel as die lewenservaring wat opgedoen is, stel jou daartoe in staat om ’n verskil te kan maak.
Party afgetredenes onttrek uit die besige samelewing en raak stil voor die Hemelse Vader om te bepaal wat die doel is wat uitgeleef kan word. Om hierdie doel uit te leef is dit belangrik om saam met ander afgetredenes te werk.
Om te verhoed dat jy na aftrede vereensaam moet jy moeite doen om by mense in te skakel omdat sosiale aktiwiteite baie belangrik is. Doen navorsing om te bepaal by watter groep mense jy graag wil inskakel.
Die realiteit in Suid Afrika is dat talle afgetredenes geraak word deur die vertrek van hul kinders na die buiteland. Die ondersteuningsrol van kinders in die lewe van afgetredenes moet nie onderskat word nie veral as die ouers verswak of siek word. Dit is daarom belangrik dat verhoudings met mense gevorm word wat kan help om die afwesigheid van kinders te versag.
Om doelgerig te leef is ’n keuse wat jy as afgetredene maak. Om besig te wees met aktiwiteite wat nie net jou eie lewe bevoordeel nie maar ook die lewe van ander, is kosbaar en moet ten volle benut word. Die beloning wat hierdeur ontvang word kan nie in geld terme bereken word nie maar wel deur dankbaarheid en vreugde.
Voorspoed word toegewens aan alle afgetredenes wat die keuse maak om wel ’n verskil in hulle samelewings te maak!




