GEWOONTES VIR GELUKKIGE AFTREDE

Riaan Botha • May 28, 2025

Ons ontleed watter gewoontes meewerk om ’n gelukkige aftrede te verseker. Hierdie maand bespreek ons hoe om gesond te lewe tydens aftrede. Mediese kostes verhoog hoe ouer ons word. Die koste van ’n mediese fonds verhoog jaarliks met meer as die inflasiekoers en mediese uitgawes sal in die toekoms ’n al groter persentasie van ons persoonlike uitgawes vereis. Dit is daarom belangrik om so gesond as moontlik te leef.


Hier is verskillende stappe wat gevolg kan word om gesond oud te word:

  • Eet gesond.
  • Moenie oorgewig wees nie.
  • Word sterker deur oefeninge te doen wat jou spiermassa behou.
  • Doen jaarliks mediese ondersoeke om te bepaal hoe gesond jy is.
  • Beskerm jou gewrigte en beenstruktuur deur krag- en rek-oefeninge te doen.
  • Verminder rook en alkohol-inname om jou kanse van kanker en ander siektes te beperk.
  • Indien jy ’n familie-geskiedenis het van siektes soos kanker en hart-toestande. moet jy vir gereelde mediese toetse gaan om vroegtydig te bepaal of jy nie die siektes onder lede het nie.
  • Verbeter jou liggaamsbalans deur oefeninge te doen soos om op een been te staan terwyl jy jou tande borsel. Hierdeur verseker jy dat jy nie gereeld jou liggaamsbalans verloor en val nie.
  • Studies het bewys dat dit help om jou fisieke en geestelike gesondheid te behou deur sewe tot agt ure per nag te slaap.
  • Hou jou brein-funksie of kognitiewe vermoë in ’n goeie toestand deur brein-oefeninge te doen, soos om nuwe stokperdjies te beoefen of memoriseringsoefeninge te doen.
  • Volg ’n aktiewe sosiale lewe. Studies het getoon dat mense met ’n aktiewe sosiale lewe minder geheue-probleme ontwikkel. Hulle het ’n verminderde kans om eensaam te voel en depressief te word (Health Connection, Cooper, University Health Care, 9 September 2024).


By Dr. Riaan Botha March 4, 2026
Beleggers is onseker oor wat die invloed van die oorlog in die Midde-Ooste op hul beleggingsportefeuljes gaan wees. Gaan die vernietiging van infra-struktuur, die wisseling in die prys van olie en die sterkte van die Suid-Afrikaanse geld eenheid teenoor die Amerikaanse dollar die prestasie van hul beleggingsportefeuljes nadelig raak? Niemand weet ook nie hoe lank die oorlog gaan duur en of vyandighede gaan uitbrei na ander lande nie. Dit is egter belangrik om die volgende rakende Bovest se beleggingsportefeuljes te onthou: Diversifikasie . Portefeuljes is saamgestel uit die verskillende bateklasse naamlik aandele, efekte, kontant en gelyste eiendom. Indien die olie pryse styg weens ’n tydelike tekort aan olie gaan sekere aandele se pryse daal. Die ander bate-klasse sal egter nie so negatief geraak word nie. Verskillende beleggingsfondse . Die Fonds van Fondse (FoF) metodiek word gebruik om beleggingsportefeuljes saam te stel. Dit verseker dat beleggingsportefeuljes vinnig herstel na onvoorsiene gebeure soos oorloë of natuurrampe. Die verskil in die beleggingstyle van die verskillende fondsbestuurders verseker ook bo-gemiddelde beleggingsprestasie. Aktiewe bestuur. Die beleggingskomitee bestuur die beleggingsportefeuljes aktief deur die verskillende ekonomiese siklusse. Beleggers het anders as spekulante ’n lang termyn benadering oor beleggingsprestasie. Die onlangse geskiedenis met die Covid-pandemie asook die finansiële krisus van 2008 het bewys dat geduld bo-gemiddelde beleggings prestasie verseker. Alhoewel die huidige oorlog in die Midde-Ooste finansiële markte nadelig raak, weet ons dat ons as beleggers geduldig moet wees om hierdie onseker tye te deurstaan en nie emosionele veranderings aan portefeuljes maak nie. Indien lesers enige navrae oor hul portefeuljes het, kan hulle hul Bovest adviseur skakel.
March 3, 2026
Dit is tyd om ankers op die plaas op te trek. Van Wyk Louw het gesê as die getye verander moet jy die bakens verskuif. Ons moet los items verkoop, moet minder maak, die volgende lewe vereis ‘n eenvoudiger bestaan met minder lewensgoedere binne kleiner spasies. Ons durf die proses moedig aan en dit neem tyd. Daar is ‘n menigde afvalmetaal items op die plaas en dit moet verwyder word – ironies, ook dit moet ‘n nuwe lewensfase in ‘n nuwe omgewing binnegaan. Ons laai die eerste vrag van vele. Daar is metaalpype, heiningmateriaal, stukke van ou landbouimplemente, en haas enige iets wat een of ander metaal bevat. My eindbestemming is Modimolle se skrootwerf. By die ingang is daar ‘n ketting wat toegang reguleer. Ek word beveel om bo-op ‘n metaalstrook te ry, net om later agter te kom dat dit eintlik ‘n weegbrug behels – ‘n noodsaaklike kritiese item in die proses van metaalverhandeling. Ek moet uitklim want saam word ek nie geweeg nie. Ek dink…in my huidige kondisie sou ek nogal ‘n goeie opbrengs in skrootmetaalpryse kon behaal. ‘n Werker in ‘n kantoortjie teken die gekombineerde gewig van die voertuig en vrag aan. Van hier word die vrag stuk-stuk volgens die soort metaal afgelaai. ‘n Man wys my die pad aan tussen hope metaalitems. ‘n Besige landskap van bedrywighede ontvou voor my – vurkhysers, trekkers, blouvlamme wat metaal opsny, waentjies wat afval na hulle bestemmings op die perseel vervoer en arbeiders wat lorries en sleepwaens aflaai. Eenkant lê ‘n wrak van ‘n motor, ‘n laaste staanplek voordat dit in stukke opgesny en inmekaar gepers sal word. Terwyl ek staar kan ek nie help om ‘n vermenslikte beeld in die motor te sien nie. Dit lyk vir my soos iemand wie se wiele afgekom het, voor is dit in die bek geskop en van agter het dit ‘n gatskop gekry. Dit het ook nie meer visie nie, want die voorruit is aan vlarde. Wat ‘n droewige gesig. Ons begin aflaai. Elke soort metaal kry sy eie tuiste, koper hier, alimunium daar, brons in ‘n drom wat geel gemerk is. Elke keer na ‘n spesifieke metaal afgelaai is, moet die voertuig terug skaal toe om die gewig van ‘n metaal te bepaal. Uit die aard van die saak verskil metale se pryse, Binne my aanvanklike beeld van skrootchaos, ontluik daar ‘n onderliggende nougesette en presiese ordeningsproses. Die aflaai self vorm ‘n ritmiese proses, ‘n stille doelgerigtheid in kontras met die ruwwe aard van die omgewing. ‘n Indruk tref my. Hierdie versameling van skroot, in teenstelling met wat meeste mense as afval sal beskou, word met metodologiese sorg hanteer. Dit is nie net ‘n stortingsarea nie, dit is ‘n sorteringsterrein waar die oorblyfsels van industrieële komponente nuwe waarde vind – elke item word sorgvuldig uitgesoek, geweeg, geprys, en uiteindelik herwin tot nuwe bruikbaarheid. Die laaste item word afgelaai. Ek word verwys na die betaalkantoor en stap die trappe op. ‘n Vriendelike dame groet my. Haar naam is Elsabe. Sy is druk besig om al die berekeninge te doen. Ek vra: “Elsabe, kry ek darem genoeg geld om ‘n draai by die Spur te maak?” “Ja oom, en genoeg vir ‘n voorgereg ook”  Ek ry weg met kontant in die hand en met ‘n dieper begrip van ‘n nuwe wêreld wat ek nie voorheen geken het nie. Dit wat aanvanklik as ‘n eenvoudige taak begin het, het voortgevloei in ‘n begripvolle blik op ‘n nywerheid wat ons moderne bestaan op ‘n positiewe wyse rugsteun. Agter elke hoop rommel is daar in werklikheid ‘n storie.