AFGETREDENES EN MEDIESE KOSTES
’n Nuwe denke oor ouderdom.
‘n Positiewe benadering oor verouderdom word gevorm as gevolg van die ontwikkeling van tegnologie en die mediese wetenskap. Statistieke wys dat die mens langer neem om te verouder en op ’n hoër ouderdom afsterf.
Met veroudering word nuwe perspektiewe oor verhoudings met familie en vriende gevorm. ’n Groter dringendheid bestaan om beplanning uit te voer. Daar is ’n besef dat die tyd aanstap en dat elke oomblik geniet moet word. Die gewoonte om uit te stel en eers later belangrike momente in jou lewe te wil ervaar, verander.
Daar is ’n besef dat die liggaam verouder maar dat die innerlike self steeds wil vernuwe. Laasgenoemde kan aangehelp word deur positiewe denke en gewoontes soos om terug te gee aan die plaaslike gemeenskap, om kennis te deel deur om te skryf of om onderrig te gee. Daar kan selfs oorweeg word om ’n nuwe vaardigheid aan te leer. Een van ons kliente wat ’n afgetrede predikant is, het na aftrede begin om klavierlesse te neem terwyl ander persone ’n nuwe plaaslike taal aangeleer het.
Mediese kostes
Volgens Stats SA se verslag “Profile of older persons in SA” wat in 2023 gepubliseer is, het die gedeelte van die SA bevolking wat ouer as 60 jaar is, verhoog van 7,0% in 1996 tot 9,8% in 2022. Wanneer die bevolking per groep ontleed word, maak die 60 jaar en ouer gedeelte van die betrokke groep die volgende uit: Blankes ongeveer 29%, Indiërs/Asiate 16,5%, Kleurlinge 10,9% en Swartes 7,8%. Hiervan gebruik ongeveer 50% kroniese medisyne, 20% gebruik brille, 10% dra gehoortoestelle en 5% is in rolstoele.Hierdie ondersteunende toestelle is duur en word nie altyd ten volle deur mediese fondse betaal nie. Die verslag noem ook dat meer as 50% van persone ouer as 60 leef in huishoudings wat uitgebreide families huisves.
Mediese uitgawes is seker een van die belangrikste items in ’n afgetredene se begroting. Dit is ’n ongelukkige verskynsel dat mediese kostes met ouderdom verhoog. Die koste van ’n mediese fonds verhoog jaarliks met 3% tot 5% meer as die inflasiekoers en sal ’n al groter persentasie van ons persoonlike uitgawes vereis.
Om die regte mediese fonds volgens persoonlike mediese kondisies te kies, speel ’n belangrike rol om deurlopende mediese uitgawes te beperk. Gap Cover kan ’n belangrike rol speel wanneer mediese fondsvoordele nie al die werklike mediese uitgawes dek nie. ’n Versekeringsproduk wat sal uitbetaal wanneer een van die gevreesde siekte opgedoen word, kan ook help om onverwagte mediese uitgawes te dek.
RIAAN BOTHA

