Die informele sektor se bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie

March 30, 2026

In die strate van ons stede en dorpe, by taxi-staanplekke, in woonbuurtes, en deesdae selfs langs hoofpaaie sit hulle – dit is die wêreld van straatverkopers, ook genoem smouse en “masmous”, soos hulle in Sepedi bekend staan. Op owerheidsvlak staan hulle as die informele sektor bekend.


Baie van ons loop maar net verby sonder om werklik van hulle notisie te neem. Voor 1994 was hulle verbied in die sentrale sake sektor van stede en dorpe. Hulle handelsware kom grootliks uit die landbou en baie van dié produkte is op dieselfde dag op plase ge-oes – dit, in teenstelling met groente en vrugte wat vir dae afwagtend deel vorm van die voorsieningsketting van winkels.


Na 30 jaar op ‘n vrugteplaas het ek ‘n begrip vir die smousgemeenskap ontwikkel. Dit is voldag en laataand mense wat ‘n kritiese aanvullende rol in ons breër ekonomie speel. Ek het baie respek oor jare vir hulle ontwikkel. Hulle kyk nie in die oë van die staat nie. Vervoer is een van hulle kernuitdagings en meeste maak staat op die taxi-bedryf in dié opsig en soms moet hulle ver ry om produkte te bekom – als teen ‘n koste.

Oor die jare het ek hulle op hulle name leer ken. As die vrugte seisoen begin het hulle telkens teruggekom. Somtyds was daar iemand wat ontbreek het - by navraag is die persoon dan oorlede of het sy gesondheidsprobleme ontwikkel. Vrouens vorm ‘n oorheersende komponent van die smousgemeenskap – baie van hulle enkelouers wat alleen gesinne finansieël aan die gang hou.


Nou onlangs was daar ‘n interessante dispuut onder ekonome oor die bepaling van die werkloosheidskoers. Sentraal tot die diskoers was die verrekening van die informele sektor. Die omvang van hierdie sektor is belangrik in enige berekening, want dit skep werk. Volgens berekeninge is daar rofweg 3 tot 5 miljoen Suid-Afrikaners in die informele sektor werksaam.en verteenwoordig tot 25% van ons werksmag. Skattings dui ook daarop dat die informele ekonomie ongeveer 6 % van die Suid-Afrikaanse BBP bydra.


Die informele sektor is nie ‘n marginale verskynsel van die Suid-Afrikaanse ekonomie nie, maar ‘n sentrale pilaar wat werk verskaf aan miljoene mense wat andersins uitgeskakel van die formele sektor sou wees. Of die informele sektor genoeg rugsteun van die staat

af kry is ‘n ope vraag. Die potensiaal vir ‘n groter bydra tot die ekonomie is daar, maar dit moet nie in rigiede formele strukture ingedwing word nie.

Kom ons kyk met ander oë na hierdie sektor en as ons volgende keer weer verby straatsmouse loop – kyk na die gehalte van hulle produkte - jy sal dalk verbaas wees. Dit is ‘n merietevolle gemeenskap wat ondersteuning nodig het.


Geskryf deur Koos van die Waterberge

vir Bovest

By Dr. Riaan Botha • September 30, 2026
Een van die kenmerke van ouderdom is dat persone aanpassings moet maak aan jou lewenstyl om tred te hou met die verouderingsproses. Persoonlike finansiële begrotings word geraak deur veranderende omstandighede. Wanneer inkomste verdien word, word persoonlike welvaart geskep en wanneer afgetree word, word die aanpassing gemaak om die verworwe welvaart te bewaar en te geniet. Veranderinge in jou lewe word soos volg deur Andy Warhol in “Change your World” beskryf: “They always say time changes things, but you actually have to change them yourself.” (J.C.Maxwell, R.Hoskins. Change your World. 2021.) Hoe word suksesvolle aanpassings gemaak? Daar bestaan verskillende teorië oor wat gedoen moet word om suksesvol aan te pas by omstandighede. Die konsensus is dat daar eerstens ’n verandering in die manier van denke moet wees. Jy moet anders dink om aan te pas by jou nuwe omstandighede. Die pas afgetredene moet besef dat waar hy/sy as ’n werkende ’n inkomste verdien het, ’n aanpassing in denke moet plaasvind om die bestaande aftree kapitaal te bewaar en te geniet. Tweedens moet persone wat aftrede aanpassings maak , indien nodig, aan byvoorbeeld hul lewensstyl. Afhangend van hoeveel aftree kapitaal beskikbaar is moet seker gemaak word dat onttrekkings wat hul lewensstyl befonds nie die aftree kapitaal erodeer nie. Die belangrike beginsel geld dat jy nie jou aftree kapitaal moet oorleef nie. Die jaarlikse hersiening saam met jou Bovest finansiële adviseur oor die stand van aftree kapitaal, is daarom noodsaaklik. Dit is derdens belangrik om die aangepaste omstandighede te benut om jou nalatingskap te finaliseer. Opdateer jou testament en maak seker dat daar genoeg fondse beskikbaar gaan wees om die verwagte boedelbelasting te betaal. Ten slotte is dit belangrik dat die aksies wat geneem word met die aanpassing van jou lewe as ’n afgetredene, ’n verskil maak oor hoe jy verouder. Jou nalatingskap en oor hoe mense om jou gaan beleef, sal getuig of dit die moeite werd was.
By Koos van die Waterberge • September 30, 2026
Baie is al gesê oor familiebesighede. Dit is algemene kennis dat sekere kultuurgroepe in Suid-Afrika bekend is om in familieverband besighede te bedryf. Die Griekse, Portugese, Joodse en Indiër-gemeenskappe is lank reeds voorbeelde hiervan. In die “nuwe Suid-Afrika”, met al sy uitdagings, is daar ‘n tendens om werk binne familieverband te skep. Deurdat daar in baie gevalle nie ‘n “kultuur” van samewerking binne familieverband bestaan nie, is die neiging kompleks met uitdagings wat net deur kreatiewe bestuursvernuf bemeester kan word. Is dit nie veral Afrikaners wat geneig is om hulle “eie ding” te wil doen en indiwidualisties en dwars te wil wees nie? Hierdie amper “genetiese” trekke kompliseer samewerking en harmonie. Dit kan ook baie druk op ouers plaas om deurentyd onderlinge samewerking te verseker en heeltyd objektief te probeer bly. Tog is die geskiedenis vol voorbeelde waar juis familiebesighede die grootste en mees volhoubare ondernemings ter wêreld opgelewer het. Van klein winkels en restaurante tot wêreldbekende handelsmerke, en van wynplase in Europa tot boerderye in Suid-Afrika. Hierdie familiebesighede vorm dikwels die ruggraat van baie ekonomieë. Daar is twee belangrike uitdagings vir familiebesighede. Die eerste lê in opvolgbeplanning. Die stigter bou die onderneming met jare se opoffering en persoonlike toewyding. Vir die volgende geslag is dit egter nie altyd ‘n roeping nie en sommige wil hulle eie koers inslaan. Dit kan spanning in familieverhoudinge veroorsaak. Die tweede uitdaging is die verskil tussen familie en meriete. Wanneer familielede poste beklee bloot omdat hulle familie is, kan dit frustrasie onder ander werknemers skep. Bevoegdheid, dissipline en aanspreeklikheid bly die grondslag van goeie bestuur. Suid-Afrika het talle voorbeelde van familiebesighede wat oor dekades, en selfs eeue, opgebou is. Daar is die Van Zyl-familie se ZZ2-groep, die Ruperds, die Retief-familie van Van Loveren, en soveel meer. Daar is egter ‘n nuwe verskynsel. Ander as geslagte gelede, bring baie jongmense, gewapen met universiteitsopleiding in landbou, ingenieurswese of besigheidsbestuur, nuwe kundigheid na besighede. Die kombinasie van tradisionele wysheid en vernuwing gee aan hierdie besighede ‘n besondere veerkragtigheid. Uiteindelik is daar tog ‘n besondere waarde aan familiebesighede. Dit gaan nie net oor wins, bates of ‘n gesonde balansstaat nie. Dit gaan oor iets wat veel moeiliker gemeet kan word: die oordra van kennis, waardes en ‘n lewensbeskouing. Elke geslag voeg sy eie hoofstuk by, maar bly terselfdertyd deel van ‘n groter verhaal wat jare tevore begin het. In ‘n wêreld waar verandering al hoe vinniger plaasvind, herinner familieondernemings ons dat sommige mylpale nie binne ’n finansiële jaar gemeet kan word nie. Hulle leer dat rentmeesterskap belangriker is as besit, dat vertroue belangriker is as kontrakte, en dat die grootste opbrengs soms nie in rand en sent lê nie, maar in die nalatenskap wat aan die volgende geslag oorgedra word. Soos in die geval van familieboerderye, produseer hulle nie net voedsel nie; hulle bewaar ook stories, waardes en ‘n lewenswyse wat maklik verlore kan gaan wanneer ‘n plaas of onderneming uit familiehande verdwyn. Geskryf deur Koos van die Waterberge vir Bovest