Moderne Afgetredenes in Suid Afrika
In ’n veranderende Suid-Afrika leef moderne afgetredenes anders as die geslagte voor hulle. Die veranderinge in lewensomstandighede oor die afgelope paar dekades het veroorsaak dat afgetredenes nuwe uitdagings moet trotseer. Dit is daarom nodig dat afgetredenes aanpassings maak om tred te hou met hierdie nuwe uitdagings.
Om persone te help om gemaklik af te tree en om as afgetredenes gelukkig te leef, sal inligting oor hierdie belangrike fase in ’n mens se lewe bespreek word. Hierdie fase verteenwoordig ongeveer een derde van jou lewensiklus. Die praktyk het gewys dat persone hierdie belangrike fase in hul lewens verskillend beleef.
Die volgende lewensomstandighede het verander:
- Die getal persone in die 60+-ouderdomsgroep het van 3,6 miljoen in 2002 tot 6,6 miljoen in 2025 gegroei en verteenwoordig tans ongeveer 10,5% van die Suid-Afrikaanse bevolking. Dit plaas groter druk op beskikbare nasionale hulpbronne.
- In bogenoemde ouderdomsgroep is daar in 2025 ongeveer 65 ouer mans vir elke 100 ouer vroue. Hierdie wanbalans in geslagte veroorsaak addisionele finansiële druk op families.
- ’n Groot gedeelte van die huidige geslag afgetredenes is afhanklik van staatspensioene. Oor tyd verminder die koopkrag van hierdie pensioene, aangesien die jaarlikse verhogings nie altyd tred hou met inflasie nie.
- Weens die hoë werkloosheidsyfer in Suid-Afrika is daar minder werkende persone wat aktief bydra tot pensioen- en mediese fondse. Dit veroorsaak onsekerheid oor toekomstige aftree- en mediese versorging.
- Die getal huishoudings wat deur ouer persone gefinansier word, het vermeerder omdat jonger persone nie altyd werk in Suid-Afrika kry nie en dikwels oorsee moet verhuis om ’n inkomste te verdien.
- Afgetredenes leef langer en daarom moet inkomste uit pensioene oor ’n langer tydperk as in die verlede voorsien word. Mediese kostes vir chroniese medisyne word ook oor ’n langer tydperk benodig
Om genoemde veranderinge ten beste te bestuur, beveel Bovest die volgende finansiële praktyke aan:
- As afgetredene moet daar, vir so lank as wat dit persoonlik moontlik is, ’n inkomste deeltyds of voltyds verdien word.
- Betrek die familie by gesamentlike familie-finansiële beplanning. Die voordele hiervan is dat daar gesamentlik vir die toekoms beplan kan word, terwyl kostes ook moontlik bespaar kan word. Adviseurs van Bovest sal families in hierdie beplanningsproses bystaan.
Moderne afgetredenes beleef tans ’n opwindende tydperk in hul lewens en kan, met die regte finansiële advies, bestaande geleenthede ten volle benut. Moet dus nie huiwer om jul Bovest finansiële adviseur by die proses te betrek nie.




