Jongmense wat Suid-Afrika verlaat
Dit is nou reeds etlike jare wat gesinne in Suid-Afrika blootgestel word aan emigrasie, (tydelik of permanent) na die buiteland. Daar is vele redes hiervoor: veiligheidskwessies, werkloosheid, beperkte beroepsgeleenthede en beter salarisse en lewensomstandighede elders. Hierdie tendens het verreikende implikasies vir die Suid-Afrikaanse ekonomie en vir die gesinne wat agterbly.
Die statistieke oor emigrasie uit Suid-Afrika is nie altyd betroubaar nie. Ramings dui wel daarop dat miljoene Suid-Afrikaners in lande soos die Verenigde Koninkryk, Nieu-Seeland, Australië, Kanada en die VSA woon en werk. Die migrasie is nie net slegs meer deur professionele mense nie, maar ook ambagslui, landbouwerkers, tegnici en universiteitsgegradueerdes. Die grootste dryfveer is natuurlik die werkloosheidsvlakke in Suid-Afrika.
Vir die ekonomie het hierdie uitvloei beide voordele en nadele. Die grootste nadeel is natuurlik die sogenaamde ‘breindrein’. Opgeleide jongmense verlaat die land en sodoende verloor ons waardevolle vaardighede, belasting betalers en toekomstige entrepreneurs en dit kan sodoende ekonomiese groei vertraag. Daarteenoor stuur baie emigrante geld terug na hul families in Suid-Afrika. Dit help met die finansies van plaaslike huishoudings. Ander keer terug met nuwe vaardighede, internasionale kontakte en kapitaal wat weer tot ekonomiese ontwikkeling kan bydra.
Jong Suid-Afrikaanse mans wat in die VSA se landbousektor jaarliks gaan werk is ‘n interessante tendens. Hier is daar weerens nie betroubare statistieke nie, hoewel die ramings wel indrukke weergee. ‘n Artikel in die Landbouweekblad dui aan dat jong Suid-Afrikaanse boere reeds só gewild is dat hulle naas Mexico, die tweede grootste groep van seisoenale landbou-arbeid in die VSA verteenwoordig – en dit neem jaarliks toe. In 2023 was daar na raming reeds meer as 9,000 Suid-Afrikaanse boere werksaam in die VSA. Ramings oor verdienste is nie betroubaar nie, maar dui tog aan dat hierdie werkers jaarliks R1,2 miljard en selfs soveel as R5 miljard uit verdienste na Suid-Afrika terugbring.
Die sosio-emosionele implikasies van hierdie migrasie is dikwels minder sigbaar, maar nie minder belangrik nie. Daar onstaan fisiese afstand tussen famililede en ouers sien hulle kinders minder gereeld. In baie gevalle ook tydelike afstand tussen huwelikmaats. Grootouers mis die geleentheid om by kleinkinders se lewens betrokke te wees en gesinsbyeenkomste word skaars. Vir baie jong emigrante bring die verhuising ook gevoelens van eensaamheid, kultuurskok en identiteitsverwarring mee.
Die uitdaging vir Suid-Afrika is om ‘n ekonomiese en sosiale omgewing te skep waarin jongmense nie noodwendig hoef te kies tussen professionele sukses en hulle verbondenheid aan hulle vaderland nie.
Geksryf deur Koos van die Waterberge
vir Bovest




