Woelinge rondom die pensioengeld van regeringsamptenare
Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) van Suid-Afrika is ‘n staatsbeheerde batebestuurder wat tans meer as R3 triljoen bestuur namens die Government Employees Pension Fund (GEPF), die grootste pensioenfonds in Afrika. Die OBK is tans in die kollig oor kommer weens bestuur, politieke inmenging en die veiligheid van staatsamptenare se pensioengeld. Nuwe wetgewende verwikkelinge, insluitend die voorgestelde Pension Protection Bill, poog om die OBK se raad te depolitiseer en die fonds se integriteit te beskerm. Kortom, die huidige omstredenheid gaan nie bloot net oor die pensioenfonds self nie, maar veral oor hoe die OBK bestuur word en hoe onafhanklik dit van politieke invloed funksioneer.
Die jongste verwikkelinge rondom die OBK blyk ernstig te wees. In Julie vanjaar is die uitvoerende hoof van die OBK, Patrick Dlamini, op voorsorgskorsing geplaas na ‘n fluitjieblaserklag. Verskeie nie-uitvoerende direkteure het ook bedank. Hierbenewens is daar ondersoeke deur die finansiële sektorreguleerder en daarmee saam ‘n hewige debat oor die rol van die minister en die OBK-raad. Hoop is op die DA se Ashor Sarupen, adjunk minister van finansies, geplaas om die nuwe uitvoerende hoof van die OBK te word. In stede daarvan het die ANC vir Seiso Mohai, adjunk minister van beplanning, monitering en evaluering, aangestel asook sewe nie-uitvoerende direksielede.
Die GEPF het onlangs wysigings aan sy reëls ingestel, onder meer oor diensjare en oorlewende voordele. Hierdie tegniese aanpassings is belangrik, maar kan die OBK werklik die geld van miljoene werknemers beskerm? Vakbonde en burgerregte organisasies waarsku dat wanbestuur en korrupsie pensioengeld kan dreineer.
Wetgewing is nou deur die DA voorgestel, die sogenaamde Pension Protection Bill, wat sal poog om die OBK se raad te depolitiseer. Die voorgestelde wet beoog onder meer onafhanklike aanstellings en ‘n nie-politieke voorsitter. Die hervormingsinisiatiewe kan beskou word as ‘n reaksie op ‘n breër krisis van vertroue. Voorstanders van depolitisering argumenteer dat onafhanklike toesig noodsaaklik is om die OBK se geloofwaardigheid te herstel en korrupsie te beperk. Kritici wys egter daarop dat probleme nie slegs in die samestelling van die raad lê nie, maar ook in die kultuur van bestuur en die gebrek aan konsekwente aanspreeklikheid. Die OBK-situasie illustreer dus die spanning tussen politieke verantwoordbaarheid en institusionele onafhanklikheid in staatsfinansies.
Uiteindelik behoort die kernvraag eenvoudig die volgende te wees:
Wie se geld is dit?
Dit is nie die regering se geld nie. Dit is die aftreegeld van mense wat onderwys gegee, siekes versorg, polisiëring gedoen en ander openbare dienste gelewer het. Hulle het nie hulle pensioenbydraes gemaak om politieke doelwitte te finansier nie. Wanneer politiek, persoonlike belange en beleggingsbesluite in een vloei, is die prys die toekoms van gewone mense.
Ten slotte. Die OBK en die GEPF bevind hulle op ‘n kritieke kruispad. Hervormings kan die pad baan na groter deursigtigheid en sekuriteit, maar die sukses daarvan hang af van daadwerklike implimentering en ‘n verbintenis tot goeie korporatiewe bestuur. Die OBK se stabibliteit is nie bloot ‘n tegniese kwessie nie; dit is ‘n toets vir die land se vermoë om groot staatsfondse verantwoordelik te bestuur en die belange van miljoene werknemers te beskerm.
Geskryf deur Koos van die Waterberge
vir Bovest




