AFTREDE:’n NUWE FASE IN JOU LEWE
Die woord “aftrede” beteken om jou aan jou loopbaan te “onttrek” en dit te vervang met ’n lewe van “ontspanning” en “niks doen”. Navorsing toon egter dat hierdie siening van aftrede besig is om te verander. Al hoe meer ouer mans en vroue is produktief en betrokke by die gemeenskappe waarin hulle leef.
In die welvaartbestuursomgewing weet ons dat persone aftreekapitaal geskep het terwyl hulle aktief hul loopbane gevolg het en dat hierdie kapitaal met aftrede benut word om hul lewenstandaard te befonds. Die huidige veranderende tendense wys dat afgetredenes steeds betrokke wil bly by aktiwiteite waarin hulle ’n opbouende rol speel.
Genoemde veranderende aftreetendense sal in die volgende nuusbriewe van Bovest bespreek word. In hierdie artikel word meer inligting oor moontlike behuisingsopsies bespreek.
• Wat is my nuwe woonadres?
Die kinders het hul “grootwordhuis” verlaat en die onderhoud aan die huis en tuin tap die energie en finansies van die afgetrede huiseienaar. Die emosionele verbintenis aan die huis waarin die kinders grootgeword het, is ’n realiteit. Wanneer die kinders egter navraag doen oor wanneer hul ouers gaan begin afskaal deur die huis te verkoop, ontwikkel nuwe perspektiewe. Die soektog na ’n nuwe woonadres het begin.
Die behuisingstatistieke van persone van 60 jaar en ouer in Suid-Afrika wys dat die meerderheid in hul eie woonhuise bly. Daar bestaan egter, volgens die eiendomsontledingsmaatskappy Lightstone, ’n stygende tendens dat meer afgetredenes na aftreekomplekse verhuis.
Hierdie tendens word gedryf deur die groeiende bevolking van ouer persone, veranderende lewensstylvoorkeure, asook die groter behoefte aan finansiële sekuriteit.
Wanneer daar besluit word om eiendom in genoemde aftreeoorde te koop, bestaan daar ’n keuse tussen eiendomsreg en verblyfreg. In eersgenoemde opsie word eiendomsreg deur die koper verkry, wat vererf kan word, terwyl verblyfreg slegs die reg tot verblyf bied – wat verval met die afsterwe van die langslewende.
Die vereensaamheid van afgetredenes, veral ná die dood van ’n lewensmaat, is ’n moontlikheid wat veral in alleenstaande woonhuise in ’n woonbuurt kan voorkom. Die geleentheid wat aftreekomplekse egter bied om sosiaal deel te wees van ’n gemeenskap van afgetredenes, help om vereensaamheid teen te werk. Persoonlike sekuriteit, asook mediese versorging, is verdere voordele wat aftreekomplekse bied.
Die nadele van aftreekomplekse is eerstens dat die finansiële koste om daar te woon hoog kan wees, en kosteberekeninge moet vroegtydig gedoen word om te verseker dat die finansiële onafhanklikheid van inwoners nie in gedrang kom nie. Tweedens moet daar seker gemaak word dat die reëls van die kompleks die persoonlike privaatheid van sy inwoners beskerm.
Ten slotte kan veranderende behuisingstendense vir afgetredenes ten beste benut word deur vooraf persoonlike finansiële ontledings te doen oor die bekostigbaarheid van moontlike keuses.




