Wanneer moet ons met ons kinders oor geld praat?

PJ Botha • September 1, 2026

Ek het self drie kinders en dink gereeld oor hoe en wanneer ’n mens hulle by die familie se finansies moet begin betrek.

Waar trek ’n mens die lyn tussen om vir jou kinders goeie geleenthede te gee en om hulle te bederf? Moet hulle sakgeld ontvang? Moet hulle daarvoor werk, of moet dit gekoppel wees aan die waarde wat hulle skep? En wanneer begin ’n mens met hulle praat oor wat die familie besit en wat hulle moontlik eendag kan erf?

Daar is baie verskillende sienings hieroor, en ek is nie seker dat daar net een regte manier is nie. Elke kind en elke familie verskil. Wat vir die een gesin werk, gaan nie noodwendig vir ’n ander werk nie.

Waarvan ek wel al hoe meer oortuig raak, is dat ons met ons kinders oor geld móét praat.


Die gesprek begin lank voor ’n erfenis


Wanneer kinders nog jonk is, hoef die gesprek nie oor die waarde van die familie se beleggings of eiendom te gaan nie. Dit kan bloot begin by hoe geld werk.

Hulle kan leer dat ’n mens nie alles kan kry wat jy wil hê nie. Geld word verdien, ’n deel word bestee, ’n deel word gespaar en ’n deel kan gebruik word om ander mense te help.

Sakgeld kan ook deel van hierdie leerproses wees. Sommige ouers gee ’n vaste bedrag sodat kinders kan leer begroot. Ander verkies dat kinders daarvoor moet werk of op ’n manier waarde moet skep. Albei benaderings kan waarskynlik werk. Die belangrikste is dat kinders begin verstaan dat geld keuses, verantwoordelikheid en gevolge meebring.

Namate hulle ouer word, kan die gesprek ontwikkel. Hulle kan meer leer oor skuld, belasting, beleggings, saamgestelde groei en waarom ’n mens soms vandag iets prysgee om later meer keuses te hê.

Dit beteken nie dat ’n mens noodwendig vir hulle presies hoef te vertel hoeveel geld daar is nie. Om kinders finansieel op te voed en om die familie se finansiële syfers bekend te maak, is nie dieselfde ding nie.


Wat ons by ouer kliënte sien


Hierdie gesprek word belangriker namate ouers ouer word.

Ons sien gereeld families waarin die ouers al die finansiële besluite geneem het, terwyl die kinders min weet van hoe die familie se sake gestruktureer is. Die kinders weet dalk nie waar die beleggings gehou word, wie die adviseurs is, wat in die testament staan of wat die plan vir die besigheid, plaas of ander eiendom is nie.

Dit raak veral belangrik wanneer daar verskillende bates en verskillende kinders betrokke is. Gaan die besigheid na een kind? Gaan die plaas na ’n ander? Hoe word die ander kinders billik behandel? Is daar genoeg kontant in die boedel om belasting, koste en ander verpligtinge te betaal, of sal bates noodgedwonge verkoop moet word?

Dit is nie maklike gesprekke nie. Ons stel dit dikwels uit omdat niemand graag oor afsterwe wil praat nie. Dit voel ongemaklik en ver weg.

Die ironie is egter dat ons almal weet dit gaan een of ander tyd gebeur. Ons weet net nie wanneer nie.


Maak dit ’n menslike gesprek


’n Familiegesprek oor finansies hoef nie ’n formele vergadering te wees waarin elke bedrag en dokument op die tafel geplaas word nie.

Dit kan eenvoudig begin met:


“Ons wil hê julle moet verstaan hoe ons sake werk en wat die plan sal wees indien iets met ons gebeur.”


Van daar af kan ’n mens verduidelik:


  • Wie die belangrike adviseurs en kontakpersone is.
  • Waar die testament en ander dokumente gehou word.
  • Hoe die beleggings, trust, besigheid of plaas gestruktureer is.
  • Wat met die verskillende bates behoort te gebeur.
  • Wie waarskynlik verantwoordelikheid vir bepaalde sake sal aanvaar.
  • Waarom sekere besluite geneem is.


Dit gee kinders ook die geleentheid om vrae te vra en moontlike misverstande uit die weg te ruim terwyl die ouers nog self die redes vir hul besluite kan verduidelik.


Begin by die waardes, nie die waarde nie


Die belangrikste gesprek gaan waarskynlik nie oor presies hoeveel geld daar is nie. Dit gaan oor die verhaal agter die geld.

Hoe is dit opgebou? Watter werk, opofferings en risiko’s was nodig? Watter geleenthede moet dit skep? En watter verantwoordelikheid kom daarmee saam?

Goeie boedelbeplanning gaan dus oor meer as ’n testament, belasting en voldoende kontant in die boedel. Dit gaan ook daaroor om die mense wat die bates gaan ontvang, voor te berei vir die verantwoordelikheid wat daarmee saamkom.


Ons moet daarom nie net vra:


“Wat gaan ons kinders eendag erf?”


Ons moet ook vra:


“Verstaan hulle wat hulle gaan erf, waarom dit opgebou is en wat ons hoop hulle daarmee sal doen?”


Daar is dalk nie een regte manier om met kinders oor geld te praat nie. Maar om nooit daaroor te praat nie, is waarskynlik die grootste risiko van almal.

By Geo Botha September 1, 2026
Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) van Suid-Afrika is ’n staatsbeheerde batebestuurder wat tans meer as R3 triljoen bestuur namens die Government Employees Pension Fund (GEPF), die grootste pensioenfonds in Afrika. Die OBK is tans in die kollig weens kommer oor bestuur, politieke inmenging en die veiligheid van staatsamptenare se pensioengeld. Nuwe wetgewende verwikkelinge, insluitend die voorgestelde Pension Protection Bill, poog om die OBK se raad te depolitiseer en die fonds se integriteit te beskerm. Kortom, die huidige omstredenheid gaan nie bloot oor die pensioenfonds self nie, maar veral oor hoe die OBK bestuur word en hoe onafhanklik dit van politieke invloed funksioneer. Die jongste verwikkelinge rondom die OBK blyk ernstig te wees. In Julie vanjaar is die uitvoerende hoof van die OBK, Patrick Dlamini, op voorsorgskorsing geplaas ná ’n fluitjieblaserklag. Verskeie nie-uitvoerende direkteure het ook bedank. Hierbenewens is daar ondersoeke deur die finansiële sektorreguleerder en daarmee saam ’n hewige debat oor die rol van die minister en die OBK-raad. Hoop is op die DA se Ashor Sarupen, adjunkminister van finansies, geplaas om die nuwe uitvoerende hoof van die OBK te word. In plaas daarvan het die ANC Seiso Mohai, adjunkminister van beplanning, monitering en evaluering, asook sewe nie-uitvoerende direksielede aangestel. Die GEPF het onlangs wysigings aan sy reëls ingestel, onder meer oor diensjare en oorlewendevoordele. Hierdie tegniese aanpassings is belangrik, maar kan die OBK werklik die geld van miljoene werknemers beskerm? Vakbonde en burgerregteorganisasies waarsku dat wanbestuur en korrupsie pensioengeld kan dreineer. Die DA het nou wetgewing voorgestel, die sogenaamde Pension Protection Bill, wat poog om die OBK se raad te depolitiseer. Die voorgestelde wet beoog onder meer onafhanklike aanstellings en ’n nie-politieke voorsitter. Die hervormingsinisiatiewe kan beskou word as ’n reaksie op ’n breër krisis van vertroue. Voorstanders van depolitisering argumenteer dat onafhanklike toesig noodsaaklik is om die OBK se geloofwaardigheid te herstel en korrupsie te beperk. Kritici wys egter daarop dat die probleme nie slegs in die samestelling van die raad lê nie, maar ook in die bestuurskultuur en die gebrek aan konsekwente aanspreeklikheid. Die OBK-situasie illustreer dus die spanning tussen politieke verantwoordbaarheid en institusionele onafhanklikheid in staatsfinansies. Uiteindelik behoort die kernvraag eenvoudig die volgende te wees: Wie se geld is dit? Dit is nie die regering se geld nie. Dit is die aftreegeld van mense wat onderwys gegee, siekes versorg, polisiëringsdienste gelewer en ander openbare dienste verrig het. Hulle het nie hul pensioenbydraes gemaak om politieke doelwitte te finansier nie. Wanneer politiek, persoonlike belange en beleggingsbesluite ineenvloei, is die toekoms van gewone mense die prys wat betaal word. Ten slotte bevind die OBK en die GEPF hulle op ’n kritieke kruispad. Hervormings kan die weg baan vir groter deursigtigheid en sekuriteit, maar die sukses daarvan hang af van daadwerklike implementering en ’n verbintenis tot goeie korporatiewe bestuur. Die OBK se stabiliteit is nie bloot ’n tegniese kwessie nie; dit is ’n toets vir die land se vermoë om groot fondse verantwoordelik te bestuur en die belange van miljoene werknemers te beskerm.
By Dr. Riaan Botha September 1, 2026
Die woord “aftrede” beteken om jou aan jou loopbaan te “onttrek” en dit te vervang met ’n lewe van “ontspanning” en “niks doen”. Navorsing toon egter dat hierdie siening van aftrede besig is om te verander. Al hoe meer ouer mans en vroue is produktief en betrokke by die gemeenskappe waarin hulle leef. In die welvaartbestuursomgewing weet ons dat persone aftreekapitaal geskep het terwyl hulle aktief hul loopbane gevolg het en dat hierdie kapitaal met aftrede benut word om hul lewenstandaard te befonds. Die huidige veranderende tendense wys dat afgetredenes steeds betrokke wil bly by aktiwiteite waarin hulle ’n opbouende rol speel. Genoemde veranderende aftreetendense sal in die volgende nuusbriewe van Bovest bespreek word. In hierdie artikel word meer inligting oor moontlike behuisingsopsies bespreek. • Wat is my nuwe woonadres? Die kinders het hul “grootwordhuis” verlaat en die onderhoud aan die huis en tuin tap die energie en finansies van die afgetrede huiseienaar. Die emosionele verbintenis aan die huis waarin die kinders grootgeword het, is ’n realiteit. Wanneer die kinders egter navraag doen oor wanneer hul ouers gaan begin afskaal deur die huis te verkoop, ontwikkel nuwe perspektiewe. Die soektog na ’n nuwe woonadres het begin. Die behuisingstatistieke van persone van 60 jaar en ouer in Suid-Afrika wys dat die meerderheid in hul eie woonhuise bly. Daar bestaan egter, volgens die eiendomsontledingsmaatskappy Lightstone, ’n stygende tendens dat meer afgetredenes na aftreekomplekse verhuis. Hierdie tendens word gedryf deur die groeiende bevolking van ouer persone, veranderende lewensstylvoorkeure, asook die groter behoefte aan finansiële sekuriteit. Wanneer daar besluit word om eiendom in genoemde aftreeoorde te koop, bestaan daar ’n keuse tussen eiendomsreg en verblyfreg. In eersgenoemde opsie word eiendomsreg deur die koper verkry, wat vererf kan word, terwyl verblyfreg slegs die reg tot verblyf bied – wat verval met die afsterwe van die langslewende. Die vereensaamheid van afgetredenes, veral ná die dood van ’n lewensmaat, is ’n moontlikheid wat veral in alleenstaande woonhuise in ’n woonbuurt kan voorkom. Die geleentheid wat aftreekomplekse egter bied om sosiaal deel te wees van ’n gemeenskap van afgetredenes, help om vereensaamheid teen te werk. Persoonlike sekuriteit, asook mediese versorging, is verdere voordele wat aftreekomplekse bied. Die nadele van aftreekomplekse is eerstens dat die finansiële koste om daar te woon hoog kan wees, en kosteberekeninge moet vroegtydig gedoen word om te verseker dat die finansiële onafhanklikheid van inwoners nie in gedrang kom nie. Tweedens moet daar seker gemaak word dat die reëls van die kompleks die persoonlike privaatheid van sy inwoners beskerm. Ten slotte kan veranderende behuisingstendense vir afgetredenes ten beste benut word deur vooraf persoonlike finansiële ontledings te doen oor die bekostigbaarheid van moontlike keuses.