Wanneer moet ons met ons kinders oor geld praat?
Ek het self drie kinders en dink gereeld oor hoe en wanneer ’n mens hulle by die familie se finansies moet begin betrek.
Waar trek ’n mens die lyn tussen om vir jou kinders goeie geleenthede te gee en om hulle te bederf? Moet hulle sakgeld ontvang? Moet hulle daarvoor werk, of moet dit gekoppel wees aan die waarde wat hulle skep? En wanneer begin ’n mens met hulle praat oor wat die familie besit en wat hulle moontlik eendag kan erf?
Daar is baie verskillende sienings hieroor, en ek is nie seker dat daar net een regte manier is nie. Elke kind en elke familie verskil. Wat vir die een gesin werk, gaan nie noodwendig vir ’n ander werk nie.
Waarvan ek wel al hoe meer oortuig raak, is dat ons met ons kinders oor geld móét praat.
Die gesprek begin lank voor ’n erfenis
Wanneer kinders nog jonk is, hoef die gesprek nie oor die waarde van die familie se beleggings of eiendom te gaan nie. Dit kan bloot begin by hoe geld werk.
Hulle kan leer dat ’n mens nie alles kan kry wat jy wil hê nie. Geld word verdien, ’n deel word bestee, ’n deel word gespaar en ’n deel kan gebruik word om ander mense te help.
Sakgeld kan ook deel van hierdie leerproses wees. Sommige ouers gee ’n vaste bedrag sodat kinders kan leer begroot. Ander verkies dat kinders daarvoor moet werk of op ’n manier waarde moet skep. Albei benaderings kan waarskynlik werk. Die belangrikste is dat kinders begin verstaan dat geld keuses, verantwoordelikheid en gevolge meebring.
Namate hulle ouer word, kan die gesprek ontwikkel. Hulle kan meer leer oor skuld, belasting, beleggings, saamgestelde groei en waarom ’n mens soms vandag iets prysgee om later meer keuses te hê.
Dit beteken nie dat ’n mens noodwendig vir hulle presies hoef te vertel hoeveel geld daar is nie. Om kinders finansieel op te voed en om die familie se finansiële syfers bekend te maak, is nie dieselfde ding nie.
Wat ons by ouer kliënte sien
Hierdie gesprek word belangriker namate ouers ouer word.
Ons sien gereeld families waarin die ouers al die finansiële besluite geneem het, terwyl die kinders min weet van hoe die familie se sake gestruktureer is. Die kinders weet dalk nie waar die beleggings gehou word, wie die adviseurs is, wat in die testament staan of wat die plan vir die besigheid, plaas of ander eiendom is nie.
Dit raak veral belangrik wanneer daar verskillende bates en verskillende kinders betrokke is. Gaan die besigheid na een kind? Gaan die plaas na ’n ander? Hoe word die ander kinders billik behandel? Is daar genoeg kontant in die boedel om belasting, koste en ander verpligtinge te betaal, of sal bates noodgedwonge verkoop moet word?
Dit is nie maklike gesprekke nie. Ons stel dit dikwels uit omdat niemand graag oor afsterwe wil praat nie. Dit voel ongemaklik en ver weg.
Die ironie is egter dat ons almal weet dit gaan een of ander tyd gebeur. Ons weet net nie wanneer nie.
Maak dit ’n menslike gesprek
’n Familiegesprek oor finansies hoef nie ’n formele vergadering te wees waarin elke bedrag en dokument op die tafel geplaas word nie.
Dit kan eenvoudig begin met:
“Ons wil hê julle moet verstaan hoe ons sake werk en wat die plan sal wees indien iets met ons gebeur.”
Van daar af kan ’n mens verduidelik:
- Wie die belangrike adviseurs en kontakpersone is.
- Waar die testament en ander dokumente gehou word.
- Hoe die beleggings, trust, besigheid of plaas gestruktureer is.
- Wat met die verskillende bates behoort te gebeur.
- Wie waarskynlik verantwoordelikheid vir bepaalde sake sal aanvaar.
- Waarom sekere besluite geneem is.
Dit gee kinders ook die geleentheid om vrae te vra en moontlike misverstande uit die weg te ruim terwyl die ouers nog self die redes vir hul besluite kan verduidelik.
Begin by die waardes, nie die waarde nie
Die belangrikste gesprek gaan waarskynlik nie oor presies hoeveel geld daar is nie. Dit gaan oor die verhaal agter die geld.
Hoe is dit opgebou? Watter werk, opofferings en risiko’s was nodig? Watter geleenthede moet dit skep? En watter verantwoordelikheid kom daarmee saam?
Goeie boedelbeplanning gaan dus oor meer as ’n testament, belasting en voldoende kontant in die boedel. Dit gaan ook daaroor om die mense wat die bates gaan ontvang, voor te berei vir die verantwoordelikheid wat daarmee saamkom.
Ons moet daarom nie net vra:
“Wat gaan ons kinders eendag erf?”
Ons moet ook vra:
“Verstaan hulle wat hulle gaan erf, waarom dit opgebou is en wat ons hoop hulle daarmee sal doen?”
Daar is dalk nie een regte manier om met kinders oor geld te praat nie. Maar om nooit daaroor te praat nie, is waarskynlik die grootste risiko van almal.




