Die toebroodjie-generasie
Die term “toebroodjie-generasie” (TG) kom deesdae in baie geskrifte voor. Hierdie tipering is reeds in die 1980’s ontwikkel en verwys na volwassenes in verskillende ouderdomsgroepe wat vasgevang is in die versorging van hulle ouerwordende ouers enersyds, en ondersteuning aan hulle kinders en selfs kleinkinders, andersyds. Dié situasie verteenwoordig ‘n groeiende sosiale en ekonomiese uitdaging.
Meer spesifiek verwys die TG-generasie na volwassenes tussen die ouderdom van 30 en 60 jaar wat beide hulle ouers en kinders finansieel, fisies en emosioneel versorg en ondersteun. TG’s is dan denkbeeldig vasgevang soos die vulsel van ‘n toebroodjie tussen twee snye brood. Redes vir die onstaan van hierdie generasie is velerlei en kan ondermeer toegedig word aan verhoogde lewensverwagting, kinder wat langer in ouerhuise bly, jongmense wat op ‘n later stadium met gesinne begin en finansieële redes. Interessant is dat China die hoogste TG’s ter wêreld het en Old Mutual het in 2018 bevind dat 28% van alle Suid-Afrikaners tot hierdie generasie behoort en jaarliks met twee persent toeneem.
Internasionale navorsing toon dat hierdie verskynsel veral sterk in die Globale Suide voorkom, insluitend Suid-Afrika, waar gesinsolidariteit en beperkte staatssteun families dwing om die las self te dra. TG’s kom ook byna twee keer so algemeen in Sub-Sahara-Afrika voor as in Europa. Volgens Suid-Afrikaanse statistieke (2023) woon sowat 9,7 mijoen kinders saam met 6,7 miljoen grootouers. Dit dui op ‘n sterk tradisie van intergenerasionele huishoudings. ‘n Verslag (2026) waarsku dat ongeveer 5,6 miljoen Suid-Afrikaners ouer as 60 ‘n toenemende vraag na gesinsgebaseerde sorg skep. Die middelgenerasie dra dikwels hierdie koste terwyl hulle self probeer spaar vir aftrede.
Op ‘n sosiale en emosionele vlak kan die konstante spanning om ouers en kinders te ondersteun lei tot uitbranding, skuldgevoelens en gesinskonflik. Druk op die Toebroodjie Generasie is veelvoudig: ouers vind dit dikwels moeilik om hul beroep, stokperdjies, sport, verhoudinge en tyd vir hulself te bestuur – soms is daar werklik geen tyd buite hierdie versorgingsfunksies nie. Om dus ‘n goeie huweliksmaat, ouer en kind terselfdertyd te wees, raak uiters moeilik. Sielkundige probleme kan volg: ouers kan aan versorger-uitbranding begin ly met die voorkoms van depressie, skuldgevoelens en gevolglike sosiale isolasie.
Hoeveel van ons is nie bewus van vriende en familie wat tot die toebroodjie-generasie behoort nie.
Geksryf deur Koos van die Waterberge
vir Bovest




