By Koos van die Waterberge
•
September 30, 2026
Baie is al gesê oor familiebesighede. Dit is algemene kennis dat sekere kultuurgroepe in Suid-Afrika bekend is om in familieverband besighede te bedryf. Die Griekse, Portugese, Joodse en Indiër-gemeenskappe is lank reeds voorbeelde hiervan. In die “nuwe Suid-Afrika”, met al sy uitdagings, is daar ‘n tendens om werk binne familieverband te skep. Deurdat daar in baie gevalle nie ‘n “kultuur” van samewerking binne familieverband bestaan nie, is die neiging kompleks met uitdagings wat net deur kreatiewe bestuursvernuf bemeester kan word. Is dit nie veral Afrikaners wat geneig is om hulle “eie ding” te wil doen en indiwidualisties en dwars te wil wees nie? Hierdie amper “genetiese” trekke kompliseer samewerking en harmonie. Dit kan ook baie druk op ouers plaas om deurentyd onderlinge samewerking te verseker en heeltyd objektief te probeer bly. Tog is die geskiedenis vol voorbeelde waar juis familiebesighede die grootste en mees volhoubare ondernemings ter wêreld opgelewer het. Van klein winkels en restaurante tot wêreldbekende handelsmerke, en van wynplase in Europa tot boerderye in Suid-Afrika. Hierdie familiebesighede vorm dikwels die ruggraat van baie ekonomieë. Daar is twee belangrike uitdagings vir familiebesighede. Die eerste lê in opvolgbeplanning. Die stigter bou die onderneming met jare se opoffering en persoonlike toewyding. Vir die volgende geslag is dit egter nie altyd ‘n roeping nie en sommige wil hulle eie koers inslaan. Dit kan spanning in familieverhoudinge veroorsaak. Die tweede uitdaging is die verskil tussen familie en meriete. Wanneer familielede poste beklee bloot omdat hulle familie is, kan dit frustrasie onder ander werknemers skep. Bevoegdheid, dissipline en aanspreeklikheid bly die grondslag van goeie bestuur. Suid-Afrika het talle voorbeelde van familiebesighede wat oor dekades, en selfs eeue, opgebou is. Daar is die Van Zyl-familie se ZZ2-groep, die Ruperds, die Retief-familie van Van Loveren, en soveel meer. Daar is egter ‘n nuwe verskynsel. Ander as geslagte gelede, bring baie jongmense, gewapen met universiteitsopleiding in landbou, ingenieurswese of besigheidsbestuur, nuwe kundigheid na besighede. Die kombinasie van tradisionele wysheid en vernuwing gee aan hierdie besighede ‘n besondere veerkragtigheid. Uiteindelik is daar tog ‘n besondere waarde aan familiebesighede. Dit gaan nie net oor wins, bates of ‘n gesonde balansstaat nie. Dit gaan oor iets wat veel moeiliker gemeet kan word: die oordra van kennis, waardes en ‘n lewensbeskouing. Elke geslag voeg sy eie hoofstuk by, maar bly terselfdertyd deel van ‘n groter verhaal wat jare tevore begin het. In ‘n wêreld waar verandering al hoe vinniger plaasvind, herinner familieondernemings ons dat sommige mylpale nie binne ’n finansiële jaar gemeet kan word nie. Hulle leer dat rentmeesterskap belangriker is as besit, dat vertroue belangriker is as kontrakte, en dat die grootste opbrengs soms nie in rand en sent lê nie, maar in die nalatenskap wat aan die volgende geslag oorgedra word. Soos in die geval van familieboerderye, produseer hulle nie net voedsel nie; hulle bewaar ook stories, waardes en ‘n lewenswyse wat maklik verlore kan gaan wanneer ‘n plaas of onderneming uit familiehande verdwyn. Geskryf deur Koos van die Waterberge vir Bovest