Blogs
Read our latest news and industry insights.
Riaan Botha

Internasionale lughawens in Suid-Afrika is bedrywig gedurende skoolvakansies, want kinders en kleinkinders wat oorsee woon, kom vir hul jaarlikse besoek by oupa en ouma kuier. Dit is opmerklik dat, wanneer die kinders in die ontvangslokale aankom, die glimlagte en opgewondenheid aansteeklik is. Die teenoorgestelde emosies is egter teenwoordig in die vertreklokale twee of drie weke later. Wanneer jy persoonlik deur hierdie emosionele ervarings geraak word, besef 'n ouer hoe hierdie realiteit, wat in baie Suid-Afrikaanse gesinne voorkom, jou familie se finansiële plan beïnvloed. Kom ons bespreek 'n paar aspekte hiervan: Jaarlikse reise na familie wat oorsee woon, is duur en daarom moet daarvoor begroot word. Nie alle kinders wat oorsee werk, het 'n standhoudende inkomste om hul lewenstandaard te befonds nie. Die moontlikheid bestaan daarom dat hulle soms deur hul ouers finansieel ondersteun moet word. Die beplanning van vererwing aan kinders is uniek omdat vaste bates hierdeur geraak word. Dit is byvoorbeeld nie prakties om die familie se woonhuis aan 'n kind wat oorsee woon, te laat vererf nie. Dit is bekend dat familiewelvaart meer as net materiële besittings behels. Daarom behoort familielede met mekaar gesprek te voer oor hoe familiebande sterk gehou kan word nadat vererwing plaasgevind het. Blootstelling aan die daaglikse ekonomiese aktiwiteite van ander lande verbreed die ervaringswêreld van kinders wat oorsee woon. Hierdie nuutgevonde kennis en ervaring kan weer met die Suid-Afrikaanse familielede gedeel word. Dit is bekend dat arbeid in ekonomies ontwikkelde lande, soos die VSA, Australië en verskeie Europese lande, duur is. Daarom moet daar begroot word vir enige arbeid wat oorsee benodig word, veral indien ondersteuningsdienste benodig word. Daar bestaan min twyfel dat die ervaring wat kinders oorsee opdoen, plaaslike finansiële beplanning binne families beïnvloed. Hierdie nuwe werkservarings kan ook 'n positiewe bydrae lewer tot die skepping en behoud van die familie se welvaart.

In ’n veranderende Suid-Afrika leef moderne afgetredenes anders as die geslagte voor hulle. Die veranderinge in lewensomstandighede oor die afgelope paar dekades het veroorsaak dat afgetredenes nuwe uitdagings moet trotseer. Dit is daarom nodig dat afgetredenes aanpassings maak om tred te hou met hierdie nuwe uitdagings. Om persone te help om gemaklik af te tree en om as afgetredenes gelukkig te leef, sal inligting oor hierdie belangrike fase in ’n mens se lewe bespreek word. Hierdie fase verteenwoordig ongeveer een derde van jou lewensiklus. Die praktyk het gewys dat persone hierdie belangrike fase in hul lewens verskillend beleef. Die volgende lewensomstandighede het verander: Die getal persone in die 60+-ouderdomsgroep het van 3,6 miljoen in 2002 tot 6,6 miljoen in 2025 gegroei en verteenwoordig tans ongeveer 10,5% van die Suid-Afrikaanse bevolking. Dit plaas groter druk op beskikbare nasionale hulpbronne. In bogenoemde ouderdomsgroep is daar in 2025 ongeveer 65 ouer mans vir elke 100 ouer vroue. Hierdie wanbalans in geslagte veroorsaak addisionele finansiële druk op families. ’n Groot gedeelte van die huidige geslag afgetredenes is afhanklik van staatspensioene. Oor tyd verminder die koopkrag van hierdie pensioene, aangesien die jaarlikse verhogings nie altyd tred hou met inflasie nie. Weens die hoë werkloosheidsyfer in Suid-Afrika is daar minder werkende persone wat aktief bydra tot pensioen- en mediese fondse. Dit veroorsaak onsekerheid oor toekomstige aftree- en mediese versorging. Die getal huishoudings wat deur ouer persone gefinansier word, het vermeerder omdat jonger persone nie altyd werk in Suid-Afrika kry nie en dikwels oorsee moet verhuis om ’n inkomste te verdien. Afgetredenes leef langer en daarom moet inkomste uit pensioene oor ’n langer tydperk as in die verlede voorsien word. Mediese kostes vir chroniese medisyne word ook oor ’n langer tydperk benodig Om genoemde veranderinge ten beste te bestuur, beveel Bovest die volgende finansiële praktyke aan: As afgetredene moet daar, vir so lank as wat dit persoonlik moontlik is, ’n inkomste deeltyds of voltyds verdien word. Betrek die familie by gesamentlike familie-finansiële beplanning. Die voordele hiervan is dat daar gesamentlik vir die toekoms beplan kan word, terwyl kostes ook moontlik bespaar kan word. Adviseurs van Bovest sal families in hierdie beplanningsproses bystaan. Moderne afgetredenes beleef tans ’n opwindende tydperk in hul lewens en kan, met die regte finansiële advies, bestaande geleenthede ten volle benut. Moet dus nie huiwer om jul Bovest finansiële adviseur by die proses te betrek nie.

Die uitdrukking “Twee koppe is beter as een” is welbekend en dui daarop dat samewerking voordelig is. Is daar voordele vir lede van ’n familie wanneer hulle gesamentlik familie-finansiële beplanning doen, asook inkomstevoorsiening deur middel van familiebesighede? Familiebesighede in Suid-Afrika, waar gesamentlike finansiële beplanning plaasvind, is ’n belangrike deel van die ekonomie. Talle Afrikaanssprekendes is afkomstig van die platteland waar hulle in ’n familiebesigheidsomgewing op plase grootgeword het. Weens ’n verskeidenheid van redes verander die landbou-familiebesigheidsomgewing, en sommige van hierdie families verskuif hul familiesakebelange met groot sukses na ander sektore van die ekonomie. Entrepreneursvaardighede word egter benodig om vir jouself ’n inkomste te skep. Bovest is behulpsaam om die nodige entrepreneurskundigheid deur middel van die TV-program “Welvaartskeppers” aan die kykerspubliek bekend te stel. Bykomend hiertoe word finansiële advies aan families gegee om sodoende maksimum finansiële voordeel te verkry. Indien die voordele van familie-finansiële beplanning met dié van persoonlike finansiële beplanning vergelyk word, bestaan die volgende voordele: Laer gesamentlike fooie vir familielede kan beding word; Meer effektiewe belastingskale kan benut word deur beleggingskapitaal tussen gades te verdeel; Die oordrag van welvaart na die volgende geslag kan vergemaklik word deur familietrusts te gebruik; Gedeelde verantwoordelikheid bevorder dissipline om by langtermyn-kapitaalbouplanne te hou; Verskillende lewensiklusse en risiko-aptyte help om die familie se beleggingsportefeulje te balanseer; Die verskille in ouderdom en lewensfases ondersteun die uiteenlopende eiendomsbehoeftes van familielede. Aangesien die finansiële beplanning van families meer kompleks is, benodig dit samewerking tussen die verskillende geslagte om behoeftes en verwagtinge te verwesenlik. Die rol van die Bovest-adviseur in hierdie proses kan nie onderskat word nie.

Agtergrond Geopolitieke spanninge het daartoe gelei dat oorlog tussen Amerika/Israel en Iran op 28 Februarie 2026 uitgebreek het. Een van die gevolge van die huidige oorlog is die verminderde olieproduksie en die gevolglike styging in brandstofpryse. Die duurder brandstof raak nie net Suid-Afrikaners se sak wanneer hulle hul motors se tenks vul nie, maar beïnvloed ook die winsgewendheid van Suid-Afrikaanse maatskappye wat op die Johannesburgse Aandelebeurs (JSE) genoteer is. Suid-Afrika Suid-Afrika vorm deel van die ontwikkelende ekonomieë wat aanvanklik goed gevaar het gedurende die eerste twee maande van 2026, totdat die oorlog op 28 Februarie uitgebreek het. Gedurende Maart 2026 het die JSE All Share Index met 13% gedaal — die grootste maandelikse daling in 18 jaar. Gedurende April het die indeks egter gestabiliseer, maar dit bly sensitief vir energieprysskokke. Weens die hoër brandstofpryse het Suid-Afrikaanse industriële aandele, kleinhandelaars en eiendomsmaatskappye se aandeelpryse gedaal. Hierdie ondernemings is nou gekoppel aan die plaaslike ekonomie en verbruikersbesteding, wat tans onder druk verkeer. Groot maatskappye met internasionale blootstelling se pryse het ook verswak. Richemont is geraak deur swakker wêreldwye vraag na luukse goedere, terwyl Naspers en Prosus afgetrek is deur swakker prestasie in Chinese tegnologie-aandele. Die Suid-Afrikaanse geldeenheid het ook ’n belangrike rol gespeel. Die rand het versterk tot ongeveer R16 teenoor die Amerikaanse dollar voordat dit effens verswak het. Hoewel dit positief mag klink, verminder ’n sterker rand die waarde van buitelandse verdienste wanneer dit terug na rand omgeskakel word. Aangesien baie van die grootste maatskappye op die JSE hul inkomste oorsee verdien, het dit hul aandeelpryse verder gedemp. Amerika Amerika vorm deel van die ontwikkelde ekonomieë, en hul aandelebeurse is anders deur die oorlog geraak. Suid-Afrikaanse aandele het nie tred gehou met die sterk herstel van die Amerikaanse markte ná die aanvanklike daling in aandeelpryse aan die begin van die oorlog nie. Dit was die gevolg van ’n kombinasie van wêreldwye onsekerheid, die tipe maatskappye wat op elke mark genoteer is, en bewegings in wisselkoerse. Amerikaanse maatskappye, veral in die tegnologiesektor, het voortgegaan om winsgroei te toon, wat beleggers gelok het. In onseker tye neig internasionale beleggers ook om geld na die VSA te verskuif omdat dit as ’n veiliger beleggingsbestemming beskou word. Suid-Afrika, aan die ander kant, het ’n mark wat meer afhanklik is van kommoditeite en wêreldwye ekonomiese siklusse, wat dit meer vatbaar maak vir skokke. Samevatting Daar is ’n gesegde: “Dit is makliker om ’n oorlog te begin as om dit te stop.” Mag diplomate die oorhand kry oor generaals sodat vrede kan terugkeer. Vrede sal olieproduksie verhoog en gevolglik brandstof goedkoper maak. Dit gaan egter tyd neem voordat die huidige hoë brandstofpryse en inflasiedruk verdwyn. In ’n ná-oorlogse situasie kan verwag word dat die JSE weer sterk sal vertoon, mits inflasie onder beheer bly en rentekoerse nie dramaties verhoog word nie. NOTA Ek het in 1983 my meestersgraadverhandeling in Staatsleer aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi met die titel: “Islamitiese Determinante in die Wêreldpolitiek.” Dit is kenmerkend dat die rol van olie in die internasionale politiek gedurende 1970’s, weer 50 jaar later herhaal word. Die prys van ’n vat olie het destyds van 1,80 dollar in 1970 na 3 dollar in 1973 en na 31 dollar in 1979 gestyg. Daar was bewindsverandering in Iran toe die Islamietiese Revolusie in 1979 plaasgevind het. Iran, wat deel van OPEC is, het destyds ook olie aangewend om sy Islamitiese doktrine internasionaal te bevorder. In die huidige oorlog word olie steeds deur Iran as ’n geopolitieke wapen gebruik om Amerika en ander olie-verbruikende lande onder druk te plaas. Marksyfers tot einde April 2026

Die oorlog in die Midde-Ooste is ’n nuuswaardige gebeurtenis en die TV-dekking daarvan ontstel die meeste kykers. Dit is die rede waarom afgetredenes wonder hoe hierdie vernietigende optrede van vegtende weermagte moontlik hul finansiële beplanning vir hul aftrede gaan raak. Ons leef in ’n wêreld wat elke paar jaar geruk word deur onvoorsiene krisisse. Dink maar aan die internasionale finansiële krisis in 2008, en wie kan die pandemie van 2020 vergeet? Die finansiële markte is toe, net soos tans die geval is, negatief geraak deur vernietigende gebeure. Is die finansiële gevolge van die huidige oorlog anders as tydens vorige krisisse? Finansiële beplanning vir aftrede is langtermynbeplanning, terwyl ’n krisis ’n korttermyngebeurtenis is. Langtermynbeplanning is veral noodsaaklik tydens korttermynperiodes wanneer finansiële markte wisselvallig vertoon. Geskiedenis het bewys dat die strategie om in en uit die markte te koop en te verkoop minder portefeuljegroei veroorsaak as om voortdurend in die markte belê te bly. Die beleggingstrategie van “timing the market” moet eerder vervang word met “time in the market”. Sodoende word groeigeleenthede in die markte benut en word kostes van transaksies vermy. In ’n beleggingsomgewing waarin onsekerheid heers, is die diversifikasie van ’n beleggingsportefeulje een van die mees effektiewe benaderings tot risikobestuur. Beleggings in verskillende bateklasse en oor verskillende geografiese gebiede heen dien as ’n kussing teen krisisse soos die oorlog in die Midde-Ooste. Langtermyn finansiële beplanning, waartydens daar gereelde portefeuljehersiening plaasvind, asook die hersiening van persoonlike finansiële doelwitte, verseker ’n meer stabiele uitkoms vir die afgetredene. Hierdie oorlog is nie anders as vorige krisisse nie. Indien daar egter onsekerheid by kliënte van Bovest bestaan oor of hul huidige aftreeportefeulje reg saamgestel is vir die oorlogskrisis en die moontlike finansiële gevolge daarvan, moet hulle asseblief hul adviseur skakel.

Beleggers is onseker oor wat die invloed van die oorlog in die Midde-Ooste op hul beleggingsportefeuljes gaan wees. Gaan die vernietiging van infra-struktuur, die wisseling in die prys van olie en die sterkte van die Suid-Afrikaanse geld eenheid teenoor die Amerikaanse dollar die prestasie van hul beleggingsportefeuljes nadelig raak? Niemand weet ook nie hoe lank die oorlog gaan duur en of vyandighede gaan uitbrei na ander lande nie. Dit is egter belangrik om die volgende rakende Bovest se beleggingsportefeuljes te onthou: Diversifikasie . Portefeuljes is saamgestel uit die verskillende bateklasse naamlik aandele, efekte, kontant en gelyste eiendom. Indien die olie pryse styg weens ’n tydelike tekort aan olie gaan sekere aandele se pryse daal. Die ander bate-klasse sal egter nie so negatief geraak word nie. Verskillende beleggingsfondse . Die Fonds van Fondse (FoF) metodiek word gebruik om beleggingsportefeuljes saam te stel. Dit verseker dat beleggingsportefeuljes vinnig herstel na onvoorsiene gebeure soos oorloë of natuurrampe. Die verskil in die beleggingstyle van die verskillende fondsbestuurders verseker ook bo-gemiddelde beleggingsprestasie. Aktiewe bestuur. Die beleggingskomitee bestuur die beleggingsportefeuljes aktief deur die verskillende ekonomiese siklusse. Beleggers het anders as spekulante ’n lang termyn benadering oor beleggingsprestasie. Die onlangse geskiedenis met die Covid-pandemie asook die finansiële krisus van 2008 het bewys dat geduld bo-gemiddelde beleggings prestasie verseker. Alhoewel die huidige oorlog in die Midde-Ooste finansiële markte nadelig raak, weet ons dat ons as beleggers geduldig moet wees om hierdie onseker tye te deurstaan en nie emosionele veranderings aan portefeuljes maak nie. Indien lesers enige navrae oor hul portefeuljes het, kan hulle hul Bovest adviseur skakel.

Dit is tyd om ankers op die plaas op te trek. Van Wyk Louw het gesê as die getye verander moet jy die bakens verskuif. Ons moet los items verkoop, moet minder maak, die volgende lewe vereis ‘n eenvoudiger bestaan met minder lewensgoedere binne kleiner spasies. Ons durf die proses moedig aan en dit neem tyd. Daar is ‘n menigde afvalmetaal items op die plaas en dit moet verwyder word – ironies, ook dit moet ‘n nuwe lewensfase in ‘n nuwe omgewing binnegaan. Ons laai die eerste vrag van vele. Daar is metaalpype, heiningmateriaal, stukke van ou landbouimplemente, en haas enige iets wat een of ander metaal bevat. My eindbestemming is Modimolle se skrootwerf. By die ingang is daar ‘n ketting wat toegang reguleer. Ek word beveel om bo-op ‘n metaalstrook te ry, net om later agter te kom dat dit eintlik ‘n weegbrug behels – ‘n noodsaaklike kritiese item in die proses van metaalverhandeling. Ek moet uitklim want saam word ek nie geweeg nie. Ek dink…in my huidige kondisie sou ek nogal ‘n goeie opbrengs in skrootmetaalpryse kon behaal. ‘n Werker in ‘n kantoortjie teken die gekombineerde gewig van die voertuig en vrag aan. Van hier word die vrag stuk-stuk volgens die soort metaal afgelaai. ‘n Man wys my die pad aan tussen hope metaalitems. ‘n Besige landskap van bedrywighede ontvou voor my – vurkhysers, trekkers, blouvlamme wat metaal opsny, waentjies wat afval na hulle bestemmings op die perseel vervoer en arbeiders wat lorries en sleepwaens aflaai. Eenkant lê ‘n wrak van ‘n motor, ‘n laaste staanplek voordat dit in stukke opgesny en inmekaar gepers sal word. Terwyl ek staar kan ek nie help om ‘n vermenslikte beeld in die motor te sien nie. Dit lyk vir my soos iemand wie se wiele afgekom het, voor is dit in die bek geskop en van agter het dit ‘n gatskop gekry. Dit het ook nie meer visie nie, want die voorruit is aan vlarde. Wat ‘n droewige gesig. Ons begin aflaai. Elke soort metaal kry sy eie tuiste, koper hier, alimunium daar, brons in ‘n drom wat geel gemerk is. Elke keer na ‘n spesifieke metaal afgelaai is, moet die voertuig terug skaal toe om die gewig van ‘n metaal te bepaal. Uit die aard van die saak verskil metale se pryse, Binne my aanvanklike beeld van skrootchaos, ontluik daar ‘n onderliggende nougesette en presiese ordeningsproses. Die aflaai self vorm ‘n ritmiese proses, ‘n stille doelgerigtheid in kontras met die ruwwe aard van die omgewing. ‘n Indruk tref my. Hierdie versameling van skroot, in teenstelling met wat meeste mense as afval sal beskou, word met metodologiese sorg hanteer. Dit is nie net ‘n stortingsarea nie, dit is ‘n sorteringsterrein waar die oorblyfsels van industrieële komponente nuwe waarde vind – elke item word sorgvuldig uitgesoek, geweeg, geprys, en uiteindelik herwin tot nuwe bruikbaarheid. Die laaste item word afgelaai. Ek word verwys na die betaalkantoor en stap die trappe op. ‘n Vriendelike dame groet my. Haar naam is Elsabe. Sy is druk besig om al die berekeninge te doen. Ek vra: “Elsabe, kry ek darem genoeg geld om ‘n draai by die Spur te maak?” “Ja oom, en genoeg vir ‘n voorgereg ook” Ek ry weg met kontant in die hand en met ‘n dieper begrip van ‘n nuwe wêreld wat ek nie voorheen geken het nie. Dit wat aanvanklik as ‘n eenvoudige taak begin het, het voortgevloei in ‘n begripvolle blik op ‘n nywerheid wat ons moderne bestaan op ‘n positiewe wyse rugsteun. Agter elke hoop rommel is daar in werklikheid ‘n storie.

Die regte gesindheid teenoor aftrede verseker dat ons gelukkig aftree. Die nuwe vryheid wat jy beleef as ’n afgetredene is om jou eie tydskedule te bepaal en om te doen wat jy jou hele werkende lewe na gehunker het. Hierdie fase in jou lewe is kosbaar en moet ten volle benut word. Bepaal die doel wat jy as ’n afgetredene moet uitleef. Dit is meer as om net jou belangrikse bate – jou tyd – te gee vir die saak waarin jy ’n verskil wil maak. Gedurende jou werkende loopbaan het jy soveel kundigheid opgedoen om suksesvol te kan wees en om jou doel uit te leef. Hierdie kennis sowel as die lewenservaring wat opgedoen is, stel jou daartoe in staat om ’n verskil te kan maak. Party afgetredenes onttrek uit die besige samelewing en raak stil voor die Hemelse Vader om te bepaal wat die doel is wat uitgeleef kan word. Om hierdie doel uit te leef is dit belangrik om saam met ander afgetredenes te werk. Om te verhoed dat jy na aftrede vereensaam moet jy moeite doen om by mense in te skakel omdat sosiale aktiwiteite baie belangrik is. Doen navorsing om te bepaal by watter groep mense jy graag wil inskakel. Die realiteit in Suid Afrika is dat talle afgetredenes geraak word deur die vertrek van hul kinders na die buiteland. Die ondersteuningsrol van kinders in die lewe van afgetredenes moet nie onderskat word nie veral as die ouers verswak of siek word. Dit is daarom belangrik dat verhoudings met mense gevorm word wat kan help om die afwesigheid van kinders te versag. Om doelgerig te leef is ’n keuse wat jy as afgetredene maak. Om besig te wees met aktiwiteite wat nie net jou eie lewe bevoordeel nie maar ook die lewe van ander, is kosbaar en moet ten volle benut word. Die beloning wat hierdeur ontvang word kan nie in geld terme bereken word nie maar wel deur dankbaarheid en vreugde. Voorspoed word toegewens aan alle afgetredenes wat die keuse maak om wel ’n verskil in hulle samelewings te maak!

’n Nuwe denke oor ouderdom. ‘n Positiewe benadering oor verouderdom word gevorm as gevolg van die ontwikkeling van tegnologie en die mediese wetenskap. Statistieke wys dat die mens langer neem om te verouder en op ’n hoër ouderdom afsterf. Met veroudering word nuwe perspektiewe oor verhoudings met familie en vriende gevorm. ’n Groter dringendheid bestaan om beplanning uit te voer. Daar is ’n besef dat die tyd aanstap en dat elke oomblik geniet moet word. Die gewoonte om uit te stel en eers later belangrike momente in jou lewe te wil ervaar, verander. Daar is ’n besef dat die liggaam verouder maar dat die innerlike self steeds wil vernuwe. Laasgenoemde kan aangehelp word deur positiewe denke en gewoontes soos om terug te gee aan die plaaslike gemeenskap, om kennis te deel deur om te skryf of om onderrig te gee. Daar kan selfs oorweeg word om ’n nuwe vaardigheid aan te leer. Een van ons kliente wat ’n afgetrede predikant is, het na aftrede begin om klavierlesse te neem terwyl ander persone ’n nuwe plaaslike taal aangeleer het. Mediese kostes Volgens Stats SA se verslag “Profile of older persons in SA” wat in 2023 gepubliseer is, het die gedeelte van die SA bevolking wat ouer as 60 jaar is, verhoog van 7,0% in 1996 tot 9,8% in 2022. Wanneer die bevolking per groep ontleed word, maak die 60 jaar en ouer gedeelte van die betrokke groep die volgende uit: Blankes ongeveer 29%, Indiërs/Asiate 16,5%, Kleurlinge 10,9% en Swartes 7,8%. Hiervan gebruik ongeveer 50% kroniese medisyne, 20% gebruik brille, 10% dra gehoortoestelle en 5% is in rolstoele.Hierdie ondersteunende toestelle is duur en word nie altyd ten volle deur mediese fondse betaal nie. Die verslag noem ook dat meer as 50% van persone ouer as 60 leef in huishoudings wat uitgebreide families huisves. Mediese uitgawes is seker een van die belangrikste items in ’n afgetredene se begroting. Dit is ’n ongelukkige verskynsel dat mediese kostes met ouderdom verhoog. Die koste van ’n mediese fonds verhoog jaarliks met 3% tot 5% meer as die inflasiekoers en sal ’n al groter persentasie van ons persoonlike uitgawes vereis. Om die regte mediese fonds volgens persoonlike mediese kondisies te kies, speel ’n belangrike rol om deurlopende mediese uitgawes te beperk. Gap Cover kan ’n belangrike rol speel wanneer mediese fondsvoordele nie al die werklike mediese uitgawes dek nie. ’n Versekeringsproduk wat sal uitbetaal wanneer een van die gevreesde siekte opgedoen word, kan ook help om onverwagte mediese uitgawes te dek. RIAAN BOTHA

Inleiding Aftrede is onteenseglik ’n belangrike fase in jou lewe, en waarskynlik die belangrikste. Dit is die samevoeging van voorafgaande fases, soos opleiding en inkomsteskepping, en as persone nie gereed is vir aftrede nie, kan die lewe traumaties wees. Daar bestaan talle onsekerhede tydens aftrede soos die lengte daarvan, gesondheid en beskikbare finansies. Raad aan persone wat beplan om af te tree, is om tydig met die welvaart beplannings proses te begin – hoe gouer hoe beter. Jy benodig persoonlike welvaart doelwitte wat opgevolg moet word met die begeerte om die regte gewoontes aan te leer. Dit word soms vereis dat jy bereid moet wees om van jou gevestigde gewoontes te verander in die soeke na persoonlike geluk. Uit ons interaksie met kliënte wat op aftrede staan of reeds afgetree het, kon ons waarneem dat hierdie benadering prakties en logies is, met positiewe, tasbare gevolge. Hier volg ’n paar gedagtes oor welvaart gewoontes waarvan die leser kennis moet neem. ’n Nuwe denke oor ouderdom. ‘n Positiewe benadering oor verouderdom word gevorm as gevolg van die ontwikkeling van tegnologie en die mediese wetenskap. Statistieke wys dat die mens langer neem om te verouder en op ’n hoër ouderdom afsterf. Met veroudering word nuwe perspektiewe oor verhoudings met familie en vriende gevorm. ’n Groter dringendheid bestaan om beplanning uit te voer. Daar is ’n besef dat die tyd aanstap en dat elke oomblik geniet moet word. Die gewoonte om uit te stel en eers later belangrike momente in jou lewe te wil ervaar, verander. Daar is ’n besef dat die liggaam verouder maar dat die innerlike self steeds wil vernuwe. Laasgenoemde kan aangehelp word deur positiewe denke en gewoontes soos om terug te gee aan die plaaslike gemeenskap, om kennis te deel deur om te skryf of om onderrig te gee. Daar kan selfs oorweeg word om ’n nuwe vaardigheid aan te leer. Een van ons kliente wat ’n afgetrede predikant is, het na aftrede begin om klavierlesse te neem terwyl ander persone ’n nuwe plaaslike taal aangeleer het. Leef Gesond Ons ervaring by Bovest is dat talle persone die regte gesondheids gewoontes aanleer om hoë mediese kostes te beperk. Hier is verskillende gewoontes wat aangeleer kan word: Eet gesond en moenie oorgewig wees nie. Doen gereelde oefeninge soos op te stap. Beskerm jou gewrigte en beenstruktuur deur krag- en rek-oefeninge te doen. Hou jou brein-funksie of kognitiewe vermoë in ’n goeie toestand deur brein-oefeninge soos memorisering te doen. Volg ’n aktiewe sosiale lewe. Studies het getoon dat mense met ’n aktiewe sosiale lewe minder geheue-probleme ontwikkel. (Health Connection, Cooper, University Health Care, 9 September 2024). Samevatting Die persoonlike gewoontes van gelukkige afgetredenes is anders as die van die angstige en getraumatiseerde afgetredenes. Sommige van hierdie gewoontes word oor ’n lang tyd gevorm, terwyl ander makliker aangeleer word.


